Het jy gehoor?

Kate Moss se suster volg in haar voetspore

Sy is een van die bekendste modelle ter wêreld. En nou volg Kate Moss se jonger suster in haar model-voetspore …

Lottie Moss is sedert verlede week amptelik deel van die modelwêreld én by dieselfde agentskap as waar Kate in die begin van háár loopbaan was. Dié halfsuster van Kate Moss is in 2011 by Kate se troue raakgesien toe sy nog net 13 jaar oud was. Huffington Post het hierna berig dat die modelagent Carole White haar ná dié troue “’n ware Engelse roos” genoem het.

Maar Lottie se ma het destyds gesê dat sy nog te jonk is en dat hulle eers wil wag voordat sy haarin die modelwêreld begeef. Maar nou, op 16-jarige ouderdom, is sy by die bekende modelagentskap Storm waar Kate ook begin het. Lottie gaan steeds heeltyds skool terwyl sy modelwerk doen.

Kate Moss het verlede week 40 geword! Kyk na haar mooiste voorblaaie HIER.

FOTO: Lottie Moss se portefeulje by die modelagentskap, Storm

FOTO: Lottie Moss se portefeulje by die modelagentskap, Storm

Lottie en Kate het dieselfde pa, Peter, maar verskillende ma’s.

Lottie se eerste groot fotosessie

Lottie se eerste groot fotosessie is in die Britse tydskrif Dazed & Confused.

FOTO: Lottie Moss in Dazed & Confused se Februarie-uitgawe (Dazed & Confused/ Sean and Seng)

FOTO: Lottie Moss in Dazed & Confused se Februarie-uitgawe (Dazed & Confused/ Sean and Seng)

Dié foto’s is in Londen geneem en Lottie dra die klere van bekende ontwerpers soos Prada, Saint Laurent, Dolce & Gabbana en ook Topshop. Die fotograwe Sean en Seng het ná die fotosessie Lottie se lof besing. Volgens hulle is sy “oulik en vol karakter” met ’n vreeslose blik wat verleidend is.

Nóg suster-pare in die modewêreld

Kate en Lottie is nie die eerste susterpaar wat in die modewêreld opslae maak nie. Kyk deur ons galery na nóg beeldskone susters.

Kerry en Tracy McGregor

Een van Suid-Afrika se bekendste model-susterpare, Kerry en Tracy, het al op plaaslike én internasionale voorblaaie gepronk. Hulle is ook die enigste susters wat albei deur die manstydskrif FHM as die sexyste vrou aangewys is.

Cara en Poppy Delevingne

Jonger suster Cara (foto) is deesdae meer bekend as haar ouer suster Poppy, al het Poppy eerste aandag getrek in die modelwêreld. Poppy het in 2008 haar modelloopbaan begin toe sy ondek is deur 'n modelagent van Storm. Cara se loopbaan het eers 3 jaar daarna afgeskop, maar haar gewildheid onder die ontwerpers ken geen perke nie.

Poppy Delevingne

Só lyk Poppy, Cara se suster.

Rosie en Florence Huntington-Whiteley

Rosie (foto) is sedert 2008 een van die modewêreld se lieflinge oor die sensualiteit wat sy uitstraal.

Florence Huntington-Whiteley

Florence het eers in 2012 begin met modelwerk, maar is vinnig besig om vir haarself naam te maak en uit haar suster se skadu te beweeg.

Penélope en Monica Cruz

Die twee susters lyk só eenders dat daar bewerings is dat die Pirates of the Caribbean: On Stranger Tides-filmmakers vir Monica as dubbelganger gebruik het, omdat Penélope met die skiet van dié rolprent swanger was. Die Cruz-susters is nie net voor die kameras modelle nie, maar ontwerp ook saam klere en handsakke vir Mango en Loewe.

Dakota en Elle Fanning

Dakota het as 7-jarige dogtertjie aandag getrek met haar aangrypende vertolking in I am Sam. Sedertdien het sy en haar jonger suster Elle in verskeie rolprente gespeel, maar hulle begin al hoe meer in die modewêreld belangstel. Dié twee speel nie net model nie, maar ontwerp ook saam met die modehuis Rodarte hul eie reeks.

Mary-Kate en Ashley Olsen

Hulle is lankal nie meer net die tweeling van Full House nie. Deesdae is hulle suksesvolle ontwerpers en besit saam vier handelsmerke: Olsenboye, StyleMint, The Row, en Elizabeth & James. Hulle is ook die kreatiewe direkteurs van Superga. Dié tweeling is in 2012 as die Ontwerper van die Jaar deur die Amerikaanse Modeontwerpers-raad (CFDA) aangewys. Hulle jonger suster, Elizabeth, is ook 'n aktrise.