Het jy gehoor?

Kate se blou rok het ’n Prinses Di verbintenis

Dié blou verlowingsrok van Kate was byna die rede dat die ontwerper daarvan haar besigheid se deure moes sluit.  

Issa, wat een van Kate se gunsteling ontwerpershuise is, het ná dié koninklike verlowing gesukkel om in die ongekende aanvraag daarna te voldoen.

Kate se blou Issa-rok

“Die aanvraag het die hoogte ingeskiet – selfs op ’n internasionale vlak. En dit was te veel … die besigheid kon nie die mas opkom nie,” het die voorsitter gesê.

Drie maande ná die koninklike troue in 2011 het Camilla Al Fayed die voorsitter van dié modehuis geword.

Camilla is ’n besigheidsvrou en ook die suster van Dodi Al Fayed – Diana se kêrel ten tyde van haar dood. Hulle het saam in 1997 in Parys in ’n motorongeluk gesterf.

Camilla en Dodi is die kinders van Mohamed Al Fayed, die bekende Egiptiese biljoenêr en besigheidsmagnaat.

Camilla is vriende met Issa se ontwerper en stigter, Daniella Helayel. Nadat Issa in die moeilikheid was ná die massiewe aanvraag na Kate se verlowingsrok, het sy ’n 51% aandeel in dié besigheid gekoop en voorsitter geword. Daniella is steeds in beheer van die kreatiewe kant van die besigheid.

Issa doen nou baie goed en brei vinnig uit. Dit het selfs verlede week sy eerste tak in Japan oopgemaak, berig Vogue.