FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Kate se kraamverlof verby?

William en Kate is nou wel nuwe ouers, maar hulle koninklike pligte het nie intussen net ‘verdwyn’ nie. Blykbaar is Kate gereed om weer vroeg in September uit haar ‘post-baba-dop’ te kruip …

Agt weke nadat Kate, die hertogin van Cambridge, aan haar eersteling geboorte geskenk het, is sy gereed om weer haar pligte op te neem. Die paleis het bevestig dat sy en William 12 September hul eerste funksie as ouers gaan bywoon.

Dié funksie is ten bate van Tusk Trust, ‘n liefdadigheidsorganisasie vir die bewaring en beskerming van wilde diere. William is die beskermheer van dié organisasie en het selfs die direkteur van Tusk Trust na hul troue in 2011 genooi.

Sedert klein George in Julie gebore is, was Kate maar baie skaars. Sy en George bly van net ná die geboorte by haar ouers net buite Londen. William het vroeër die week weer met sy pligte hervat én het gister sy eerste televisie-onderhoud gedoen wat later uitgesaai gaan word. Hierin sê hy glo dat die klein prins sy lewe onherroeplik verander het, alles natuurlik ten goede.

Pa William terug werk toe, wat sê hy van die klein prins?

Kate was nie regtig van plan om só vroeg al met haar koninklike pligte te begin nie, maar volgens bronne is sy nóú al gereed om haarself ‘in twee te verdeel‘…

William se liefde vir Afrika

FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Soos Harry, het William nog altyd ‘n spesiale band met Afrika gedeel. Diana het tydens haar leeftyd baie gedoen om aandag te fokus op die unieke probleme wat Afrika in die gesig staar.

Diana het die wêreld bewus gemaak van die vigs-krisis en hongersnood wat Afrika kniehalter, maar waarvoor sy seker die bekendste is, is die werk wat sy in Angola gedoen het. Foto’s van haar met ’n beskermende masker en klere, en foto’s waar sy met landmynslagoffers gesels, het ikonies geword.

In 2001 het ‘n 18-jarige William 3 maande in Afrika deurgebring as deel van sy gap jaar voordat hy gaan studeer het. Hier het hy betrokke geword by die konservasie van Afrika se wilde diere en die natuurskoon.

Sedertdien het William al baie weer Afrika besoek, en sy 21ste verjaarsdagpartytjie se tema was selfs ‘Out of Africa’.

William het ook vir Kate gevra om te trou in Kenië, naby aan die plek waar ‘n jong prinses Elizabeth (William se ouma) geleer het dat haar pa, koning George VI, dood is en sy koningin sou word.

William en Kate het ook hul wittebrood in die Seychelles gehou.

Bron: Daily Mail