FOTO Instagram  riccardotisci17

FOTO Instagram riccardotisci17

Het jy gehoor?

Boude met houding!

Boude bo. Dís die nuwe “borste’’ en “bene’’, sê sommige. Want orals sien ons vroue met groter boude. Of sommer gróót boude.

Die Amerikaanse werklikheidstelevisie-fenomeen Kim Kardashian was een van die grootste rolspelers in dié trend. Net ure nadat foto’s van haar agterstewe (daar was selfs kaal foto’s!) in 2014 in die Amerikaanse tydskrif Paper verskyn het, is dit ’n halfmiljoen keer op Instagram ge-like. Die internet was in rep en roer soos mense daaroor gepraat het. En op die eerste dag het 6,6 miljoen mense daarna gekyk – dit trek nou seker al by die biljoene!

Selfs die toonaangewende modetydskrif Vogue (voorheen bekend vir sy verheerliking van plankdun modelle) het op Kim se foto’s gereageer en kort daarna verkondig: We’re Officially in the Era of the Big Booty.

Die Britse popgroep Queen het in die tagtigs al gesing: “Fat bottomed grils you make the rockin’world go round.” (Speel sommer dié liedjie in die agtergrond terwyl jy verder lees.)

Maar met die opkoms van supermodelle soos die rietskraal Kate Moss en die delikaat geboude aktrise Gwyneth Paltrow later in die tagtigs en negentigs, het groot boude se gewildheid gekwyn. Selfs ’n paar jaar gelede nog was almal gaande oor die sangeres Taylor Swift se wilgerlatlyfie, wat lyk asof dit sommer kan knak in ’n effense briesie. Maar sowat twee jaar gelede is sy in die openbaar verkleineer oor haar klein agterstewe. ’n DJ het trouens aanlyn geld probeer insamel om haar boude te vergroot!

Terloops, volgens die Britse vereniging vir estetiese plastiese chirurge styg die vraag na “vet-verskuiwingsoperasies” na die boude (waar vet uit ’n vrou se maag en bobene geneem word en in haar boude “ingeplant” word) jaarliks met 13 persent. Sowat twee jaar gelede is die Brit Joy Williams (23) dood toe sy so ’n operasie in Thailand ondergaan het. Sy het spesiaal soontoe gereis om die prosedure daar teen ’n “winskopie’’ van £2 000 (sowat R45 291) te laat doen. Dit kos twee keer soveel in Brittanje. In Amerika het vroue ook glo tydens soortgelyke operasies gesterf.

Miskien het die groot ommekeer gekom met Pippa Middleton toe haar suster, Kate, op 29 April 2011 met prins William getroud is. Die mense het byna net so baie gepraat oor haar sitvlak (in die knap strooimeisierok) as oor die bruid se rok.

Die boud-brigade staan sterk in celeb-kringe: dink aan aktrises soos Kate Winslet en Scarlet Johansson. Daar is al beweer dat die aktrise Jennifer Lopez hare vir miljoene verseker het. Rihanna het al in skrapse rokke verskyn waar die naat van haar boud wys. En dan is daar die sangeres en aktrise Beyoncé wat bekend is vir haar kurwes: als van lang bene, groot borste tot ronde boude.

Hoekom? Marlize Heppell, sielkundige van Klerksdorp, meen: “Dit dui op vroue se onvermoë om hulself te aanvaar soos hulle is. Hulle streef voortdurend na ’n beeld van sogenaamde ‘ideale skoonheid’, soos voorgehou in die media. As jy hou van jouself en tuis is in jou lyf, sal jy nie nie sommer vir sulke neigingsfoefies val nie.’’

Maar sy reken die rolprent- en modebedryf het nog altyd ’n groot uitwerking gehad. In die jare vyftig was dit die vroulike kurwes van Marilyn Monroe en Sophia Loren. In die sestigs was dit die androgene Twiggy.

“Interessant genoeg was swart vroue in die algemeen nog altyd gemakliker met groter boudkurwes as die res,’’ vertel Marlize.

Dit gaan oor die “verskuiwing van ons erogene sones”, verduidelik Nicola Cooper, ’n Johannesburgse trendanalis. Sekere liggaamsdele is in sekere tydperke meer gewild as ander.

In die vroeë jare van die 20ste eeue was swembroeke baie kuis. Net die pols en enkels is gewys. Die fiksheidsmanie van die jare en sewentig en tagtig het bobene en heupe beklemtoon. “Op die oomblik is die uurglas-figuur, met die fokus op die agterstewe, gewild. Suid-Afrika het sy kwota voller vroue met kurwes,” sê Nicola.

Maar wat sê die artse? Volgens ’n Oxford-studie van 2010 gee vroue met groot boude geboorte aan gesonder babas danksy die groot hoeveelhede omega 3-vetsure wat hulle stoor. Dít is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van die baba se brein. (Volgens ’n artikel in die Chicago Tribune is dit reeds in 2007 bewys.)

Vroue met booty bekoor mans omdat hulle groot hoeveelhede omega 3-vette stoor en dít is evolusie se manier om te sorg dat kinders suksesvol is.(www.sciencetimes.com) Kortom: die man op straat hou waarskynlik so baie van J-Lo omdat dit vir hom belangrik is dat sy kinders slim is. Die wetenskaplike William Lassek van die Universiteit van Pittsburg het sommer ’n boek daaroor geskryf: “Why women need fat’’ Groot boude is darem nie die énigste rede vir intelligente kinders nie. Fiksheid en ’n goeie dieet is van die baie ander faktore wat ook ’n rol speel.

Hoe nou, wat is dan die beste figuurvorm? Una Niewoudt, fiksheidskenner van Yzerfontein aan die Weskus, sê die uurglasfiguur – die een waar die boude effe groter is – is ideaal. “Peerfigure dra die meeste gewig om die onderlyf, dis sleg vir die rug. Appelfigure het te veel vet om die middellyfen dit skep groot risiko’s vir hartsiektes.’’

Die slegte nuus is: of jy nou groter of kleiner boude wil hê – jy kan nie een deel van die liggaam “reg’’ oefen nie.

“Aanvaar jou liggaam en streef na ’n gesonde lewenstyl,’’ is Marlize se raad.