FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Kate Winslet se baba gebore

Baba Rocknroll is hier! Die Oscar-bekroonde aktrise Kate Winslet en haar man, Ned Rocknroll (’n sakeman en familie van sir Richard Branson) het die naweek hul babaseuntjie verwelkom, berig US Weekly.

Die paartjie het in Junie vanjaar aangekondig dat Kate swanger is. Sy is alreeds ma vir Mia (13) en Joe (10) uit haar vorige verhoudings met Jim Threapleton en regisseur Sam Mendes.

Dié 38-jarige aktrise het tydens haar swangerskap aan People Magazine erken dat sy ongelooflik voel en baie opgewonde is oor die nuwe kleinding wat op pad is: “Ek voel baie goed. Om ’n ouer te wees verander jou hele lewe, en dan word jou kinders jou alles.”

Kate het by die première van haar nuwe fliek Labor Day (waar die hooffoto geneem is), gesê haar swangerskap het haar na lemoensap laat smag. Dié fliek gaan oor ’n enkelma (Kate) en haar seun wat ’n beseerde ryloper (Josh Brolin) optel. Vinnig kom hulle agter die polisie soek na ’n gevangene wat ontsnap het. Kyk die lokprent van dié aangrypende drama onder dié artikel.

Kate is een van die min Hollywood-aktrises wat toegelaat het dat ’n tydskrif glans-foto’s van haar neem terwyl sy swanger is. Dít is die foto’s wat in Vogue verskyn het.

Bron: US Weekly en People Magazine