Het jy gehoor?

Katlego Maboe verduur yswater vir sy sus met MNS

Daar was die #neknominasie en die #nomakeupselfie. Nou is daar ’n nuwe trend op sosiale media …

Die nuutste op sosiale media is die #ALSIceBucketChallenge. Dié uitdaging behels om ’n video van jouself te neem terwyl jy of iemand anders ’n emmer yswater oor jou kop gooi.

Die veldtog wil bewustheid skep vir amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ook bekend as motorneuronsiekte (MNS).

Katlego is een van die eerste Suid-Afrikaners wat dié trend omarm het nadat sy mede-aanbieder op die oggendjoernaalprogram Expresso, Leigh-Anne Williams, hom hiervoor benoem het.

Soos met ander virale veldtogte moet jy nadat jy dié uitdaging aanvaar het, vriende benoem om dieselfde te doen. As jy nie bereid is om dit te doen nie, moet jy geld aan MNS-navorsing skenk, alhoewel diegene wat kans sien vir die yswater ook skenk.

Katlego het op sy beurt die voormalige sokkerspeler Maps Maponyane, radiopersoonlikheid Poppy Ntshongwana en die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, benoem.

Dié veldtog het volgens die Los Angeles Times in Boston, Amerika, begin toe die 29-jarige Peter Frates met MNS gediagnoseer is. Dié yswater is ’n ritueel ná bofbal-wedstryde – ’n sport waarin Peter uitgeblink het.

Katlego se suster Revoniah is verlede jaar met MNS gediagnoseer. Dié siekte is onlangs baie in die nuus nadat Joost van der Westhuizen, asook die oud-Springbok Tinus Linee
hiermee gediagnoseer is. Joost het die J9-stigting begin om bewustheid oor MNS te kweek en geld in te samel vir navorsing. Op dié stadium is daar nog nie ’n middel teen dié siekte nie.

Katlego se #ALSIceBucketChallenge

Van die internasionale sterre wat die #ALSIceBucketChallenge aanvaar het, is Robert Downey Jr., Taylor Swift, Jaime King, Selena Gomez, Justin Bieber, Chris Pratt, Kerry Washington, Justin Timberlake, Ryan Seacrest, Lena Dunham, Jesse Tyler, die Grey’s Anatomy-span en Gwen Stefani – om maar net ’n paar te noem. Kyk na hul video’s HIER.