FOTO: Twitter

FOTO: Twitter

Het jy gehoor?

Kelly Clarkson se trou-drama

Alle goeie voornemens wat Kelly Clarkson gehad het om nie oor haar troureëlings te stres nie is by die deur uit toe sy haar trourok moes kies.

Kelly, wat verloof is aan Brandon Blackstock (36), het aan People gesê sy weier om in ‘bridezilla’ te verander. “Ek gaan sê, ‘O, die koek het geval, dit is oukei. Cool, iets is aan die brand, whatever …’ Ek gaan daardie meisie wees.”

Maar dié koel en kalm bruid was nêrens te sien toe sy onlangs gaan trourokke aanpas het by een van Amerika se bekendste trourok-ontwerpers, Vera Wang, nie.

“Ek was in die aantrekhokkie en toe ek na my kieliebakke kyk, dink ek, ‘Grap jy met my? Ek lyk soos ’n grotvrou!’ En toe ek my broek uittrek, het ek gedink, ‘My bene pas!’ My naels was ’n gemors, my wenkbroue het wild gelyk. Ek was nie ’n meisie nie.”

Sy het toe net daar begin huil omdat sy so onversorg was. Sy sê dat sy op die oomblik so besig is dat sy nie daarby uitkom om haarself te versorg nie.

Boonop het een van haar bruidsmeisies siek geword in dié eksklusiewe boetiek. Kelly sê dit was omtrent ’n toneel uit die film Bridesmaids. In dié film word al die bruidsmeisies siek nadat hulle voedselvergiftiging gekry het.

Maar gelukkig het die 30-jarige sangeres die rok van haar drome gevind. “Dit pas by my persoonlikheid … ’n Bietjie rock and roll … Niks soos ’n prinsesrok nie.”

Kelly Clarkson en haar verloofde

Kelly het ná 6 jaar as ’n alleenloper verlede jaar op 11 Februarie haar eerste afspraak met Brandon gehad. Sy het eers gedink dit gaan nie uitwerk nie, omdat dit dieselfde dag is waarop Whitney Houston, een van haar rolmodelle, gesterf het. Sy het geglo die verhouding is verdoem. Maar vinnig is sy verkeerd bewys.

Kelly is nou dolverlief op Brandon, wat die seun van haar musiekbestuurder is. “Ek het nie geweet ek kan so gelukkig wees nie.” Brandon is, soos sy pa, ook ’n musiekbestuurder. Sy pa is getroud met die country-sangeres Reba McEntire.   

Kelly en Brandon het in Desember verloof geraak en beplan ’n herfstroue in die buitelug in Nashville, Tennessee. Hulle gaan geel rose by die troue hê – ’n simbool van die staat Texas, waar Kelly gebore is.  

Kelly het oor die naweek by die Grammy’s vir Brandon in haar toespraak bedank nadat sy die toekenning ontvang het vir Beste Pop vocal-album vir Stronger (kyk die video hieronder).