Het jy gehoor?

Kelly Osbourne senuweeagtig oor troureëlings

Dié 28-jarige sangeres se senuwees is gedaan en sy is blykbaar op die punt om die troureëlings aan haar ma, die televisiepersoonlikheid Sharon Osbourne, oor te laat …

Die paartjie het nog nie eers ’n troudatum nie, maar die druk van ’n troue reël knaag reeds aan Kelly. Sedert sy in Julie verloof geraak het aan die sjef Matthew Mosshart, is sy  oorval met ‘dreigemente’ van mense wat eis dat hulle by die troue móét wees. ’n Televisiekanaal het hulle ook al genader dat die troue regstreeks uitgesaai word.

Al die aandag en druk het haar aanvanklike opgewondenheid gedemp. Eers wou sy net alles self beplan het, maar sy het glo haar ma gevra om hand by te sit.

Kelly het aan E! News gesê dat sy op die punt is om al die reëlings aan haar ma oor te gee: “Ek moet erken ek sukkel om kop bo water te hou met al die reëlings. En dan maak die dreigemente dit nie juis makliker nie. Ek is baie naby om vir my ma te sê: ‘Ma, doen alles – ek sal net opdaag’.”

kelly

Kelly Osbourne se verloofring!

Kelly het dit reeds duidelik gemaak dat sy net haar heel naaste familie en vriende gaan nooi en dat televisiekameras buite die kwessie is. En daardie mense wat vereis dat hulle by die troue moet wees, gaan mooi moet praat as hulle hul naam op die gastelys wil sien!

Bron: contactmusic.com