Fifty Shades of Grey
Het jy gehoor?

Kenners oor Fifty Shades of Grey-mites

Ons kenners draai ’n paar van die mites rondom E.L. James se topverkoperboek Fifty Shades of Grey nek-om. 

Die kenners

Mite: Jy is ongelukkig in jou huwelik of verhouding as jy die boeke lees

Nader aan die waarheid: Die boek se gewildheid wys dat vroue bereid is om oor hul seksuele fantasieë te praat

Avri het in haar werksessies met vroue agtergekom hulle wil meer avontuurlustig in die slaapkamer wees, maar hulle weet nie hoe om dit vir hul mans te sê nie. Dit is waar hierdie boeke baie help, want dit het vir ons ’n platform geskep om openliker en krities oor meer gewaagde seks te praat, sê sy. En ons móét daaroor praat, want seks is ’n groot deel van ons identiteit, sê sy.

“Seks is net so deel van ons soos wat ons gesondheid of loopbaan is. Ons praat ure lank oor hoeveel keer in ’n week ons moet oefen, of ons meer van joga of swem hou, hoe ons gesonder kan eet en wat ons volgende loopbaanskuif moet wees, maar min van ons praat so gereeld oor ons seksuele behoeftes,” sê Avri.

Dis vir sommige van ons moeilik om oor seks te praat, veral omdat baie van ons geleer is om skaam te wees daaroor. “Toe ons grootgeword het, is daar vir ons gesê ons mag nie aan onsself raak nie, ons het verstaan seks is lelik en vuil en ons mag nie daaraan dink nie. Dit is een van die redes hoekom ons dan as volwassenes nie eintlik weet wat ons in
die slaapkamer wil hê nie.”

Die Fifty Shades of Grey-boeke laat sommige vroue vir die eerste keer dink oor wat húl behoeftes is en laat ander weer voel dis oukei om sogenaamde kinky drange te hê.

Mite: Die boek val in die soetsappige Mills & Boon-genre

Nader aan die waarheid: Daar is ander, nuwe maniere om seks te hê

Wat Fifty Shades of Grey van ’n Mills & Boon-boek onderskei, is die soort seks waaroor geskryf word, meen Marlene. “Die boek ondersoek sadomasochistiese seks (waar onder meer swepe, leergordels en allerlei seksspeelgoed gebruik word). Nie almal stel belang in hierdie soort seks nie, maar baie vroue sien nou daar is dinge wat hulle kan doen om hul tyd tussen die lakens op te kikker. Ek dink vroue besef hulle hoef nie so ver te gaan soos in die boek nie, maar dat ’n paar klein veranderinge ’n groot verskil kan maak. Selfs al vra jy net vir jou maat om tydens seks sy hande bo sy kop te hou en nie aan jou te raak nie, is dit opwindend, want dit is ánders.”

Vroue wêreldwyd kry nie net ’n paar sekswenke uit die boeke nie, sê Avri, maar dit laat baie ook anders oor die idee van pyn en plesier dink. Met net die regte hoeveelheid pyn, skei jou lyf ’n mengeldrankie van hormone af wat jou sensories aanwakker en jou na nuwe vlakke van genot neem, sê sy.

“Ek dink vroue begin besef pyn gaan nie net oor swepe nie. Elkeen se idee daaroor verskil. Jy kan iets kry om te doen wat vir jou werk. ’n Meer gematigde voorbeeld van pyn en plesier is om liggies te byt of te krap. As jy dit baie liggies (gentle) doen, kan dit ’n bietjie pynlik wees, maar ook baie sensueel en eroties en baie plesier gee.

“Om met kontrasterende/teenoorgestelde sensasies te ‘speel’, soos was en ys, kan ook genotvol wees. Onthou net om die regte, veilige was te gebruik, dis nie jou gewone
verjaardagkoek-kersies nie! Jy kan die regte soort kerse kry van winkels vir volwassenes wat seksspeelgoed verkoop.”

Mite: Dit gaan net oor seks, seks, seks . . .

Nader aan die waarheid: Vertroue en eerlike kommunikasie speel ’n belangrike rol in ’n verhouding

Hoewel ’n groot deel van die boek op seks fokus, sien ons ook dat vertroue een van die belangrikste bestanddele in ’n verhouding is, sê Avri. Die karakters praat nie net openlik en eerlik oor wat elkeen se seksuele behoeftes is nie, maar ook oor hul vrese en onsekerhede buite die slaapkamer.

“Eerlikheid in ’n verhouding is makliker gesê as gedaan. Dit verg moed om te sê hoe jy regtig voel. Die meeste van ons is bang vir verwerping wanneer ons besluit om ons geheime, gevoelens en vrese te deel. Dis hoekom jy en jou maat albei moet voel julle
kan mekaar vertrou. Julle sal net eerlik met mekaar kan wees as julle veilig by mekaar voel.”

Daarom is dit belangrik dat julle nie voel julle word geoordeel wanneer julle kommunikeer nie, sê sy.

“Baiemaal ontstaan probleme wanneer julle mekaar misverstaan. Vra altyd vir jou maat of jy hom reg verstaan het en stel werklik belang in wat hy sê. Lyftaal is ook belangrik. As jy na jou maat toe leun en oogkontak maak, wys dit jy aanvaar hom. Hoe meer julle besef julle kan mekaar vertrou, hoe gemakliker gaan julle daarmee wees om jul gevoelens in die
toekoms met mekaar te deel.”

Mite: Die verhaal ondermyn feminisme

Nader aan die waarheid: Dis soms vir vroue bevrydend om ‘oor te gee’

In ’n artikel oor Fifty Shades of Grey op die webtuiste www.rt.com vra die joernalis of die boeke daartoe bydra dat feminisme in sy spore gestuit word omdat dit vroue aanmoedig om onderdanig aan mans te wees.

Nee, sê Marlene. Sy dink juis die boeke is vir baie vroue insiggewend. “Ana is altyd in beheer. Sy besluit wat sy wil doen en nie wil doen nie. Die boeke wys dat jy opofferings kan maak uit ’n posisie van mag. Wanneer dit jóú besluit is, is jy nie onderdanig nie.”

Vroue voel dikwels hulle moet altyd in beheer wees om sterk te wees, sê Avri. Maar dit kan baie bevrydend wees om soms “oor te gee”. Net soos in die boek is dit belangrik dat jy en jou maat onderhandel oor jul onderskeie behoeftes, sê sy.

“Ons wil dikwels hê dinge moet op ons manier verloop in ’n verhouding, want dit laat ons bemagtig voel. Maar dit is belangrik om te besef dat jy soms moet toegee aan jou maat se behoeftes. En daar is niks fout daarmee nie, solank jy nie te na gekom voel nie.”

Daar is in elke verhouding ’n tyd om in beheer te wees en ’n tyd om dit te los, sê Avri.

“Dis soms goed om toe te laat dat jou man jou byvoorbeeld emosioneel of geldelik versorg. Ander kere versorg jy hom weer. Julle trek dus albei voordeel uit dít wat ’n verhouding kan bied.”

Lees meer HIER oor dié suksesvolle boek.