boney_m
Het jy gehoor?

Kersfees saam met Boney M

’n Vrolike Liz Mitchell van die disco-groep Boney M het die afgelope naweek al glinsterend gehore by Carnival City met Kersfees-feestelikheid betower.

Dié vertoning was deel van drie geskeduleerde Kersfeesvertonings wat Vrydagaand by Sun City begin het.

Daar is egter Sondagmiddag ’n bykomende vertoning by Carnival City aangebied, juis omdat die aanvraag na dié groep so groot was.

Die groep het die gehoor Saterdagaand op hul voete gehad met treffers soos Rasputin, Brown girl in the ring en Daddy Cool.

En met Kersfees en Boney M wat al sedert die laat-sewentigs sinoniem is, was Kersliedere soos Little drummer boy, Mary’s boy child Jesus Christ en When a child is born natuurlik ook op die lys.

Mitchell het in 1983 en ook in 2008 saam met die groep die land besoek.

Tydens die vertoning Saterdagaand het sy ’n lied genaamd Mandela aan oud-president Nelson Mandela opgedra. Sommer in dieselfde asem het sy die gehoor geprys en bedank vir die positiewe veranderings wat al sedert apartheid aangebring is.

Opgewonde aanhangers het uit die gehoor na Mitchell geroep om Rivers of Babylon te sing. Al laggend het sy hulle dan gemaan om nog ’n rukkie te wag.

Mitchell, wat deel van die oorspronklike groep was, het nie vir een oomblik geskroom om interaktief met die gehoor te wees nie. Elke nou en dan het sy haar tussen entoesiastiese konsertgangers bevind of ’n paar vroue saam met haar verhoog toe gelei. Selfs die kinders is by die “partytjie” betrek en is genooi om op die verhoog te gaan saamsing.

Maar voor die opwinding van die aand tot ’n einde kon kom het Boney M die treffer Going back West gesing en dit was duidelik dat ’n hele aantal mense se voete gejeuk het om ’n paar draaie in die donker Big Top-arena te draai.

Dié groep se toer in Suid-Afrika kom môre aand by die Grand West Casino in Kaapstad tot ’n einde.

Kaartjies kos R200 en die konsert begin 20:00.