Het jy gehoor?

Kies die perfekte bril vir jóú gesigvorm

Só kies jy die perfekte brilraam

Om eenvoudige oogsorggewoontes deel van jou daaglikse roetine te maak is makliker as wat jy dink. Wêreldsigdag op 9 Oktober 2014 val saam met Nasionale Oogbewustheidsmaand (23 September tot 20 Oktober), daarom deel ons dié maand wenke vir goeie oogsorg. Vandag kyk ons na watter tipe bril jy vir jóú gesigvorm moet kies.

Mellins i-Style, ’n voorste groep optometriste in Suid-Afrika, deel die volgende wenke om die beste vorm, grootte en kleur bril vir jou gesig te kies.

Om ’n brilraam te kies kan ’n moeilike besluit wees. Elke gesig, soos elke oog, het sy eie unieke eienskappe. Soek jy ’n bril wat jou persoonlikheid komplementeer of iets wat jou voorkoms heeltemal verander? Hou dié wenke in gedagte wanneer jy weer ’n raam moet kies.

 

Ovaal-gesigvorm

 

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Mense met ovaalvormige gesigte is gelukkig, want byna enige raam pas by hulle.

Vermy: Wees versigtig vir rame wat te groot aan die kante is of klein ronde brilrame.

Beste keuse: Die beste keuse sal ’n reghoekige ontwerp wees.

 

Ronde gesigvormFOTO: Gallo Images / Getty Images

Kies ’n hoekige raam om kontoere aan jou ronde gesig te gee.

Vermy: Vermy sagte, fyn en ronde rame.

Beste keuse: Kenmerkende rame wat die hoeke beklemtoon, soos vierkantige of effens reghoekige ontwerpe.  Wees dapper en speel met kleur. ’n Bril met ’n wyer raam sal ook goed op jou lyk.

Driehoekige of hartvormige gesig

FOTO: Gallo Images / Getty Images

As jou voorkop effens breed is en jy het ’n punterige ken, volg dié wenke:

Vermy: Rame wat té klein of té kleurvol is.

Beste keuse: Jou beste keuse is ovaalvormige of ronde rame of sagter en platter ontwerpe in subtiele kleure.

 

Langwerpige of reghoekige gesig

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Jy het ’n smal gesig en jou ken en onderkakebeen is jou sterkste eienskappe. ’n Bril sal jou gesigvorm perfek beklemtoon, omdat dit jou gesig visueel verdeel.

Vermy: Ovaalvormige rame kan ook werk, maar vermy ’n styl wat te klein is vir jou.

Beste keuse: Kies ’n bril met ’n wye neusbrug en lae oorstukke. Raamlose lense met subtiele kontoere sal ook goed werk.

Hoekvormige gesigte

FOTO: Gallo Images/Getty Images

Kies ’n bril wat jou gesig langer laat lyk. Jou ken, onderkakebeen en voorkop is jou sterkste eienskappe.

Vermy: Raamlose lense kan werk, maar vermy klein brilrame en rame met sterk hoeke.

Beste keuse: Probeer effens geronde rame wat nie té klein is nie en ’n platlyn-ontwerp het.

 

Nóg wenke

Wanneer jy ’n raam kies, verseker dat jou wenkbroue of reg bo of reg langs die bokant van die raam uitsteek. As jy voel dat jou neus te lank of te kort is, kan ’n bril help om ’n visuele verbetering te maak. As die brug van die bril diep op jou neus sit, sal dit eintlik korter lyk en vice versa. As die bril aan die onderkant verleng is, sal dit jou gesig korter laat lyk.

  • Neem jou tyd, probeer soveel rame as wat jy wil en laat jou oogkundige toe om jou te lei.
  • Bespreek jou keuses met familie of vriende en kry raad van mense wat jou goed ken en weet wat jou die beste pas.
  • Maak seker dat jou bril gemaklik sit en dat jy self hou van hoe dit op jou lyk.

Vir meer inligting, besoek www.mellins.co.za

*FOTO’S: Getty Images / Gallo Images

Lees ook