FOTO: Instagram/ @kimengelbrecht

FOTO: Instagram/ @kimengelbrecht

Het jy gehoor?

Kim vind haar voete in Hollywood

Van vurige joernalis tot bedrewe hommeltuig- loods in ’n nuwe oorlogsfliek saam met Helen Mirren. Die aktrise Kim Engelbrecht sien kans vir enige rol wat emosioneel met haar praat.

Kim is nou te sien saam met Helen Mirren en die wyle Alan Rickman in die oorlogsfliek Eye in the Sky. Amerika beplan ’n aanval op ’n terroriste-groep in Nairobi, Kenia, met ’n hommeltuig. Maar dinge word vinnig gekompliseerd wanneer daar ’n dogtertjie in die area is waar die bom moet land. Dit het reeds 95% op Rotten Tomatoes gekry!

Kim vertel hoe sy haar voete in Hollywood vind

Jy’s binnekort te sien saam met groot name soos Helen Mirren in die Britse riller Eye in the Sky. Hoe was die ervaring?

Great. Ek vertolk die rol van ’n hommeltuig [drone]-loods. Dis ’n oorlogsfliek en die Suid-Afrikaner Gavin Hood het die regie gedoen. Om saam met ’n internasionale superster soos die Britse aktrise Helen Mirren te werk, maak jou nederig en dankbaar. Sy was gaaf en uiteraard professioneel.

Vir baie Suid-Afrikaners sal jy altyd die joernalis Lolly van die sepie Isidingo wees. Wat het dit in jou loopbaan beteken?

Ek het wonderlike vriendskappe by dié sepie gesmee en die voorreg gehad om met gesoute akteurs die stel te deel. Ek het van 2002 tot 2014 daar gewerk. Lolly moes liefdesteleurstellings verwerk, haar lewe was nie altyd maklik nie. Sy moes ook ’n loopbaan vir haarself uitkerf. Ek het ’n sagte plekkie vir haar. Wat ’n ongelooflike ervaring!
Jy het die afgelope twee jaar in ’n paar internasionale TV-reekse gespeel. Vertel meer.

Ek speel die rol van Noma Banks, ’n soldaat in ’n aartsengel- korps, in die Amerikaanse wetenskapfiksie-reeks Dominion. Die tweede reeks was einde verlede jaar in SA te sien. Groot dele is in Suid-Afrika verflim. Die tegniese span is ongelooflik en het al op TV-produksies soos Glee, Nip/Tuck en CSI gewerk. Die reaksie van Noma se aanhangers is iets anders. Ek kry die geleentheid om deur Twitter voortdurend in kontak met hulle te wees. Dié kits-terugvoer is opwindend! My eerste internasionale rol, waarin ek my Spaanse aksent, waaraan ek hard gewerk het, kon gebruik, was in die vierde reeks van die Britse swart komedie en misdaadreeks Mad Dogs wat in 2013 op die BBC uitgesaai is.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika wanneer jy oorsee werk?
Familie en vriende, veral vriendinne wat babas kry. Om
nie deel te hê aan hoe hul kinders grootword nie, is soms hartverskeurend. Ek mis ook vissmeer en kreef ! Gelukkig is ek mal oor kommunikasie en danksy tegnologie behou ek kontak met almal. Ek gaan eersdaags ’n woonstel in Kaapstad koop, maar bly pendel tussen die Kaap en Los Angeles.

Vir die volledige onderhoud kry SARIE se Maart 2016-uitgawe.

Kyk die lokprent hier

Lees nou