FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

KKNK: Diaan Lawrenson en Jody Abrahams se jakkalsies

Die sanger Chris Chameleon se lied “Klein jakkalsies” weergalm iewers in almal van ons se verhoudings. “Klein, klein jakkalsies krap en daai klein, klein jakkalsies maak dat ek in my stoel rondkrioel. Is dit hoe ‘n broek vol miere voel?” Verhoudings is die tema van Klein jakkalsies, Diaan Lawrenson en Jody Abrahams se komedie wat by die KKNK opgevoer word ná ʼn suksesvolle speelvak by die onlangse Woordfees op Stellenbosch.

“Ek en Jody het onsself in die teks gesien, en almal doen. Jy kom agter hoe die gehoor ook hulself raaksien. Dit gaan nie oor hoe die klein jakkalsies jou verhouding verwoes nie, maar hoe dit jou verhouding red!”, vertel Diaan.

Die produksie handel oor ʼn getroude paartjie wat met die 7 year itch besluit om vir terapie te gaan om die klein uitdagings in hul huwelik te probeer uitsorteer. Dis iets waarmee baie mense kan identifiseer. Ook Diaan en Jody.

FOTO: YouTube

FOTO: YouTube

Leon Kruger, skrywer en regisseur van die stuk, sê: “Ons het dit heel universeel probeer hou sodat enigeen dit kan gaan kyk. In die begin van die toneelstuk sien ons hoe lekker dit is – dis stroperig en vol clichés. In die beginfase van die verhouding sê Jody se karakter vir Diaan ‘Jou asem ruik na peanut butter,‘ waarop sy reageer ‘En joune soos stroop, saam maak ons die perfekte broodjie.’ Dit sinspeel op die nabyheid tussen hulle. Soos wat ons aangaan, word dit al hoe stiller tussen hulle en dis dié stilte wat hulle uitmekaar dryf en die spasie word al hoe groter. Hulle beweeg al hoe verder weg uitmekaar. Wanneer hulle eindelik by die terapeut kom, besef hulle hul probleme is eintlik nie so groot nie. Dis net normaal, daardie klein jakkalsies. Hulle besef dan ook hulle sal self die probleme moet oplos, die verandering kom van binne.”

Leon (43) is getroud met die pianis Frieda van den Heever (35). Toe Frieda na die produksie kom kyk het, was dit juis dít wat sy raakgesien het. En haar kommentaar aan Leon was: “ Alles kom uit die huis uit!”

Dit is die tweede keer dat die akteurspaar op die verhoog teenoor mekaar speel.

“Die eerste keer dat ek en Diaan saamgespeel het, was in ʼn play, Under The Fig Tree. Ek het Diaan verras en het haar gevra om te trou. Ons het op die verhoog verloof geraak, tydens die laaste vertoning.”

“Hy het gereël dat al ons vriende en familie in die gehoor was,” het Diaan bygevoeg.

Jody en Diaan is op 8 Maart 2014 getroud en het twee kinders, Olivia Rose en Thomas.

KKNK: Klein Jakkalsies deur Leon Kruger

FOTO: KKNK-program

FOTO: KKNK-program

Met: Diaan Lawrenson en Jody Abrahams

Regie: Leon Kruger

Opsomming: Julle ontmoet, raak smoorverlief, verloof en berei julle voor op ’n idilliese lewe saam. Die eerste drie jaar is een lang wittebrood. Dan lui die voordeurklokkie en ’n gros klein jakkalsies daag ongenooid op en begin hulle stadig maar seker in jul huwelik tuismaak. Dinge begin jeuk en krap en die huweliksvlammetjie is in fase drie beurtkrag, en julle kom agter geite en giere bring net miere. As jy die strop om die nek het, sal jy elkeen van die jakkalsies herken en indien jy dink aan trou, sal die komedie jou baie goed voorberei.

Afrikaans | Geen o/14 T R120 | 75 min | kykNET Hoërskoolsaal | 26 Maart 09:00 | 27 Maart 18:30 | 28 Maart 09:00 | 29 Maart 13:00 | 30 Maart 16:00

Koop kaartjies hiér.