Sanet2
Het jy gehoor?

Koekedoor se Sanet verloor 20 kg

20 kg ligter in net meer as ’n jaar …

Sanet Eigelaar, eienaar van die koffiewinkel Cup of Cake, en ook een van die laaste vier Koekedoor-deelnemers, sê haar suksesresep is kleiner porsies. “Eet net genoeg, nie agter die lekker aan nie. En eet gereeld.’’

Sanet1_fotograaf

FOTO Myburgh du Plessis

Vroeër het sy nie ontbyt geëet nie, teen die middag was sy rasend van die honger en dan het sy weggelê aan brood. “Dis net so maklik om ’n toebroodjie te maak.’’  Nou is brood nie meer haar stapelvoedsel nie, vertel sy.

Sy gee haarself ook nie meer oor aan sjokolade nie. “Af en toe eet ek ’n paar blokkies donker sjokolade, of ’n sny koek, maar jy kan jouself leer om matig te eet.’’

Haar groot geveg met die rolletjies het begin met die swangerskap van haar eersteling, Derek (5), toe sy tussen 20 en 25 kg opgetel het. “Ek het daarna ’n paar kilogramme afgeskud, maar toe ek Henk (1) verwag het, het ek alles weer opgetel en moes die stryd van vooraf aanpak. Ek het besluit ek is jonk en wil gesond en aktief wees. Dis nou of nooit.’’

Sanet2

FOTO Myburgh du Plessis

Soos die kilogramme weggesmelt het, was sy al hoe meer gemotiveerd om met haar leefstylprogram aan te gaan. “Ek dra nou weer ’n paar jeans wat ek gekoop het voor ek my man, André, ontmoet het. En dit sit los.’’

Om bedags koek en tert te bak en heerlike etes voor te sit, is uitdagend. “Maar as jy dit elke dag doen, is dit nie só ’n erge versoeking nie. Maar wanneer vuurwarm sjokolade kolwyntjies uit die oond gehaal word, neem die reuk my terug na my ma, Lina van den Berg, se oond op Bredasdorp. Dis hemels. Ek gebruik nou nog haar sjokoladekoekresep en ek onthou hoe dikwels ek die bakke uitgelek het as ons haar help koek bak het. Dáárvoor swig ek soms en as ek ’n burger eet, is die rolletjies waarop die burger is darem baie lekker.’’

Sy geniet af en toe ’n glasie rooiwyn en ’n bier met ’n lae alkohol-inhoud, maar probeer dit beperk gedurende die week. “En ek drink minstens ses cappuccino’s per dag, maar sorg om dié rede dat ek ook ses tot agt glase water drink.’’

En nee, ná ’n harde dag by die werk, waar sy heeldag op haar voete is en rondskarrel tussen haar kliënte, het sy nie saans lus om te oefen in die gimnasium nie.

“Die enigste manier om suksesvol gewig te verloor, is om te besluit om dit vir jouself te doen. Jý moet beter wil voel. Dit help niks jy wil iemand anders beïndruk nie,’’ meen Sanet.

groep

FOTO Myburgh du Plessis

Lees nou:

‘Ek was so bang Pat het sy nek gebreek!’

Eerste onderhoud met Oscar Pistorius Vrydag op M-Net

Historiese midwinter reddingsvlug na Suidpool suksesvol