Het jy gehoor?

Koningin Elizabeth toe nie só verstok

Dié selfie van twee Australiese hokkiespelers by die Statebondspele in Glasgow, Skotland, maak wêreldwyd opslae … Herken jy die statige dame in die agtergrond?

Jayde Taylor, een van die spelers in die Australiese hokkiespan, en haar spanmaat, Brooke Peris, het ’n selfie geneem en koningin Elizabeth het die foto ge-photobomb, skryf Fox News. Lees die volledige artikel hier.

Die span was glo besig om af te koel nadat hulle Maleisië se nasionale hokkiespan 4-0 geklop het. Die koningin was vroeg vir die wedstryd tussen Engeland en Wallis, wat ná Australië se wedstryd gespeel is en die Australiese hokkiespelers het die geleentheid aangegryp – byna die hele span het glo selfies begin neem in die hoop dat die Britse monarg die agtergrond van hul foto’s sou haal.

En Jayde en Brooke se foto was die grootste sukses … Só lyk die foto wat koningin Elizabeth ge-photobomb het!

Jayde Taylor en Brooke Peris - kyk net hoe glimlag koningin Elizabeth in die agtergrond! FOTO: Twitter (JaydeTaylor)

Jayde Taylor en Brooke Peris – kyk net hoe glimlag koningin Elizabeth in die agtergrond!
FOTO: Twitter (JaydeTaylor)

Jayde, wat die foto sommer vinnig op Twitter gedeel het, het later ook deur dié sosiale media-werf vir Ellen DeGeneres gesê sy dink haar en Brooke se selfie klop dié rekord-selfie wat Ellen tydens vanjaar se Oscars geneem het.

Die koningin het vroeër vanjaar ook haar spelerige kant gewys toe sy die stel van Game of Thrones besoek het. Die koningin, wat blykbaar ’n groot aanhanger van dié TV-reeks is, het tydens haar besoek aan die stel in Belfast, Noord-Ierland, byna op die iron throne gaan sit, skryf Harper’s Bazaar.

Kyk net hoe bekyk sy dié troon, waarop al die groot konings in die reeks sit!

Bronne: Fox News & Harper’s Bazaar

Nóg op SARIE.com