FOTO Unsplash / Scott Webb

FOTO Unsplash / Scott Webb

Het jy gehoor?

Kook só met waatlemoen!

My kuier in die Karoo kom tot ’n einde met n laaste stop net voor Meiringspoort vir die geur van waatlemoen …

By boer Carl Wannenburg van Avanti Boerdery kom leer ek waarom hierdie kroon van die somertafel so lekker in die Karoo groei. En daar wag ’n geurige spyskaart op jou!

via waatlemoen 2

Op ons Inspirasie-spyskaart hierdie week:

1. Tamatie-en-waatlemoen-gazpacho
2. Waatlemoen-en-varklies-slaai
3. Waatlemoen-ysdrankie met skop

via waatlemoen 5

Tamatie-en-waatlemoen-gazpacho

SARIE-redakteur Michélle van Breda het dié idee om tamatie en waatlemoen saam te gebruik, saamgebring van die La Creuzette-landgoed op die Franse platteland. Hier is my weergawe:

genoeg vir 6

• 10 tamaties, grofgekap
• 1/2 waatlemoen, geskil en in blokke gesny
• 1 rooi-ui, fyngekap
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 brandrissies, fyngekap
• groot hand vol koljanderblare
• 50 ml sjerrie-asyn
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele in ’n groot bak. Verpulp tot baie fyn en glad met staafmenger (stick blender). Geur goed met sout en peper. Plaas in yskas tot baie koud en sit voor op gebreekte ys.

 

via waatlemoen 3

Waatlemoen-en-varklies-slaai

Die vuurwarm varkvleis bo-op die yskoue waatlemoen is ’n heerlike bederf vir enige feestafel.

genoeg vir 6

• 45 ml olyfolie
• 1 knoffelhuisie, gekap
• 2 uie, fyngesny
• 1 cm vars gemmer, fyngerasper
• 500 g gerookte varkliesrepe (pork rashers), in blokkies gesny
• 60 ml soet sojasous
• 1 brandrissie, gekap
• hand vol vars koljander, fyngekap
• 400 g waatlemoen, in blokkies gesny
• 2 grasuie, gekap

Verhit olyfolie tot warm in groot braaipan. Voeg knoffel, uie en gemmer by. Roerbraai vir 5-8 minute of tot lekker bros. Voeg varkvleisblokkies by en braai vir nog 10-15 minute of tot die vet uitgebraai en die vleis goudbruin en bros is. Voeg sojasous en brandrissie by en meng deur. Laat 5-6 minute braai of tot lekker taai sous vorm. Roer koljander deur. Pak waatlemoen op opdienbord en skep gaar varkvleisblokkies bo-op. Sprinkel grasuie oor en sit voor.

 

via waatlemoen 1

Waatlemoen-ysdrankie met skop

Maak die somer langer met hierdie drankie in die hand!

genoeg vir 6

• 100 ml bruinsuiker
• 6 lemmetjies, gehalveer
• 400 g waatlemoen, in blokkies gesny
• 100 ml wit rum (opsioneel)

Verhit braaipan tot warm en sprinkel suiker onder in pan. Pak lemmetjies met gesnyde kant na onder in pan en laat stadig braai tot suiker gekaramelliseer het en lemmetjies goudbruin aan gesnyde kant is. Haal lemmetjies uit pan en laat effens afkoel – wees versigtig, die suiker is baie warm.

Druk die sap van lemmetjies uit in groot bak. Voeg res van bestanddele by en puree met staafmenger tot glad. Plaas in vrieskasbestande bak en vries vir 2-3 uur of tot ligte yskristalle vorm. Sit voor.

Nóg Inspirasiekos met SARIE

Volstruis | Spanspek | Blomkool | Kool
Kaas | Bloubessies | Riviervis | Appelbier
Rose | Komkommers | Wortels | Balsemasyn