FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Het jy gehoor?

6 kos-trends vir 2016

2015 was die jaar van tee, klapper, bak en tuisgemaakte lekkers. Maar wat hou die kossterre in vir 2016? Ons kosredakteur Herman Lensing voorspel wat hy reken ons vanjaar op ons borde, in supermarkte en restaurante kan verwag.

1. Koekiebotters

Het jy al gehoor van spekulaasbotter? Dis byna soos grondboontjiebotter, maar word gemaak van die Nederlandse speserykoekie spekulaas. Jy kan dit gebruik vir gebak, in roomys, as vulsel vir terte of selfs net so op sy eie op roosterbrood.

Dié geurige mengsel begin sy kop nou oral uitsteek op uithaler-restaurante se spyskaarte en dit het selfs al sy weg gevind tot in die bekende Amerikaanse roomysreeks Ben & Jerry’s met ’n Spectacular Speculoos-geur. Plaaslik reken ek ons kan ons eie soetkoekie omskep in geurige botters. Dink net hoe lekker gaan soetkoekie-roomys wees!

2. Die jaar van grane, peule en bone

Vra solank vir jou ouma haar sousboon-resep, want vanjaar gaan dit cool wees om bone te eet. Die Verenigde Nasies (VN) het verlede jaar by hul algemene vergadering 2016 as die jaar van peul-plante verklaar. Dink aan grane en peule soos Bulgaarse koring, gort, lensies, botterbone, hereboontjies (limaboontjies) en kekerertjies. Selfs koring gaan orals te sien wees. Op plaaslike front het supermarkte soos Woolworths reeds teen die einde van 2015 hul rakke begin vul met ’n wye reeks droë grane, peule en bone.

FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

3. Sriracha

As jy nog nie dié sous geproe of daarvan gehoor het, nie beter jy nou dadelik na jou naaste supermark hardloop en dit gaan koop. Dié Thaise sous word gemaak van gefermenteerde brandrissies, asyn, sout en suiker. Dit word tradisioneel voorgesit as doopsous saam met Oosterse geregte. Dis deesdae te sien in marinades, bekende sjefs se restaurante en selfs Nigella Lawson eet dit vir ontbyt: “Steak, fried egg, sriracha – nothing better for a shamefully late Sunday brunch” skryf sy op Twitter. Ek reken hierdie sous gaan in 2016 nog groter raak en die moet-hê-bestanddeel van die jaar wees.

4. Groente uit die see

Die mens se soektog na gesonder eet duur voort en kenners voorspel dat die nuwe kragkos (super food) vir vanjaar die seewier en ander see-groentes gaan wees. Besoek jy winkels soos Wellness Warehouse, sien jy reeds verskeie alternatiewe pastas wat almal van seewier (kelp) gemaak is. Dis nie net laag in koolhidrate nie, maar bevat ook vitamiene en minerale, wat dit ’n gesonder opsie as tradisionele meelprodukte maak.

Um yum! How good does this kelp pasta by @lifeofgoodness_ look? Dinner inspo for tomorrow night right there! A photo posted by Edwina Morrison (@eatwithween) on

Miskien is die trend nog klein vir ons mark, maar ek reken jy gaan meer en meer seewier-produkte begin sien. Probeer dit! Dis gesond en smaak glad nie na die see nie! Loer HIER as jy dit wil probeer.

5. Geure uit Afrika

Afrika gaan weer inspirasie vir die wêreld wees as dit kom by kos, volgens Conde Nast Traveler. In ’n onlangse artikel op hul webtuiste voorspel hulle dat Afrika-geure vanjaar die Mexikaanse trend van 2015 gaan oorskadu.

Ek reken hulle is reg, want lees jy sjefs se spyskaarte, soos Marcus Samuelsson van die bekende Red Rooster in New York, sien jy woorde soos berbere, harissa, dukkah en ras el hanout – alles geure uit Afrika. Wanneer jy weer supermark toe gaan, kyk gerus by die pesto-rak, want selfs hier begin onbekende Afrika-geure soos harissa- en chermoula-pasta kop uitsteek. Maak jou reg vir bobotie gegeur met harissa of Karoo-tjops met chermoula-doopsous.

Koring-en-gortslaai

20150707-591A8047

6. Nuwe smake van die Ooste

As jy verlede jaar die kans gehad het om by top-restaurante in Suid-Afrika te eet (soos The Test Kitchen in die Kaap of Five Hundred by die Saxon in Johannesburg) sou jy miskien woorde soos kimchi (gefermenteerde kool) en gochujang op die spyskaart gesien het – alles inspirasie uit lande soos Korea en Japan.

Stap jy verby plaaslike supermarkte se spesialiteitsafdeling, sien jy skielik al hoe meer nuwe bestanddele soos panko, palm-harte, tofu, verskeie gefermenteerde souse, noedels en miso. Ek reken hierdie geure gaan hul begin tuismaak in Suid-Afrikaanse resepte. Dalk vir die winter boontjie-en-lam-sop gegeur met miso, of kerrielamsosaties saam met kimchi.