honor_twitter
Het jy gehoor?

Kry só Jessica Alba se lyf – terwyl jy TV kyk!

Dié 31-jarige ma van twee sê roetine-oefening soos gewigte optel is nie vir haar nie, sy “haat” dít.

Maar dié vietse lyf kom nie vanself nie. Haar fiksbly-geheim is dat sy oefening pret maak. Só berig Huffington Post.

“Ek hou nie van oefening nie. Ek moet iets doen wat my gedagtes besig hou, die musiek moet baie hard wees en ek moet heeltyd aan die beweeg bly.”

Daarom is hip-hop-dansklasse wat met Pilates-tipe oefeninge gekombineer word, van haar gunstelinge.

Maar haar geheime wapen is die vinnige sweet-sessies op die trapmeul by haar huis. “Wanneer ek alleen by die huis is, sit ek die televisie aan. Ek kyk gewoonlik ‘slegte’ televisie soos ’n werklikheidsreeks terwyl ek afwisselend hardloop en stap. Ek hardloop vir ’n minuut en stap vir 30 sekondes. Dít herhaal ek dan vir 20 tot 30 minute,” sê die Sin City-ster .

Volgens berigte kyk Jessica nie net na haar eie fiksheid nie, maar het sy ook vir haar man, die vervaardiger Cash Warren (foto onder), aangesê om gewig te verloor. Hy mag glo nie meer kitskos, suiwel, of vleis eet voordat hy 7 kg verloor het nie. Sy het hom ook gestuur om die hare op sy maag te laat waks.

Die Alba-Cash gesin

Al werk sy nou aan Cash se voorkoms, het Jessica onlangs weer gesê dit was liefde met die eerste oogopslag toe hulle mekaar in 2004 op die stel van Fantastic Four ontmoet het.

Haven en Jessica

Jessica en Cash het in 2008 getrou en die paartjie het twee jong dogters, Honor Marie Warren (4, foto links bo) en Haven Garner Warren (1, foto regs bo).

Hoekom oefen Jessica só op die trapmeul?

As jy so vinnig moontlik hardloop (sprint, of nael), haal jy dieper asem en die hoeveelheid suurstof in jou bloed vermeerder. Dít versterk jou spiere en verhoog jou metabolisme en hartklop. Kort “naellopies” deur die loop van die dag, met rustye tussenin, laat jou hartklop meer styg as wat lae-intensiteit-oefening doen. Op dié manier kan jy meer gewig verloor as met net lae-intensiteit-oefening. 

As jy hardloop met stadiger stap afwissel, verbrand jy kalorieë terwyl jy spiere bou én kardiovaskulêre fiksheid verhoog. Dit kombineer dus fiksheid en spierbou in dieselfde oefensessie!

Bron:http://www.fitday.com/