kurt_darren
Het jy gehoor?

Kurt Darren: Nóú vertel ek alles

Kurt Darren was nog altyd bietjie sku vir die media. Vroeër vanjaar het hy aan SARIE.com gesê hy is al soveel keer verkeerd uitgebeeld, hy is versigtig om met die media te praat. Maar nou vertel hý alles aan sy aanhangers.

“Vir die eerste keer ooit deel ek alles met my aanhangers,” sê Kurt Darren oor sy nuwe biografiese app. Dit is nou beskikbaar en jy kan dit op jou iPad aflaai. Die nuwe Kurt Darren-app, ontwikkel deur Media24 Tydskrifte Digitaal, gee jou ʼn indiepte blik op die lewe van een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars. Dit vertel Kurt se storie van kindsbeen tot nou.

SARIE.com het toe hulle nog besig was met die ontwikkeling van die app in Junie met Kurt daaroor gesels. Hy was veral opgewonde oor die eksklusiewe inhoud wat daarop bekendgestel gaan word.

Lees hier Kurt se onderhoud met SARIE.com in Junie vanjaar vóór sy ongeluk en wat hy sê oor ’n pienkvoet.

“Ek maak my hart oop en laat weet almal wie ek is, waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is. Jy sal lees van hippie-troues, skooljare, Springbok-drome en selfs my verbintenis met die berugte Gert van Rooyen. Jy sal met nuwe oë na my kyk nadat jy al vyf hoofstukke gelees het,’’ sê Kurt.

Hoe lyk die app?

Die Kurt Darren-app is in die vorm van ʼn interaktiewe digitale tydskrif met eksklusiewe video’s, onderhoude en foto’s. Die biografiese verhaal bevat vyf hoofstukke. Die eerste hoofstuk kan gratis afgelaai word. Die volgende vier hoofstukke kos R39,99.

“Ons weet die app sal ʼn groot sukses wees,” sê Ryk Benade, hoof van digitale tydskrifproduksie by Media24 Tydskrifte Digitaal. “Dit is die soort interaksie en eksklusiewe inhoud waarna mense soek. Die app gee jou al die feite, in Kurt se eie woorde.”

 

Klik hier om die Kurt Darren-app vir jou iPad af te laai: https://itunes.apple.com/us/app/kurt-darren-biografie/id691116294?ls=1&mt=8