kurt_darren
Het jy gehoor?

Kurt Darren soos jy hom nog nooit gesien het nie

Hy het op sy Twitter-blad geskryf: “Hier kom groot dinge.” En aanhangers moes daarmee tevrede wees.

Sedertdien het Kurt met musiekpromotor Louis van Wyk van Music Profile Management kragte saamgesnoer. “In 2012 gaan Suid-Afrika vir Kurt sien soos hulle hom nog nooit vantevore gesien het nie,” vertel ’n opgewonde Louis.

Daar is pas aangekondig dat Kurt in Oktober vanjaar sy eerste album met grootste treffers van sy loopbaan gaan vrystel. “Dit is natuurlik ’n moeilike taak, want Kurt het letterlik meer as 60 treffers wat almal ken,” noem Louis.

Dit gaan ’n dubbel-album wees met vier splinternuwe liedjies daarby. Kurt gaan regoor die land toer met dié album.

Maar sy optredes gaan almal wat al vir Kurt op die verhoog gesien het, aangenaam verras! Daar gaan vyf uitgesoekte musikante saam met hom op die verhoog wees, en vier dansers.

Die dansers tree deur die loop van die vertoning in agt verskillende kostuums op en al hul passies is deur ’n choreograaf uitgewerk. “Dit gee die vertoning ongelooflike energie en Kurt se liedjies is hoofsaaklik dans-treffers, daarom werk dit regtig goed,” meen Louis.

Pleks van die meer as 200 vertonings wat Kurt die laaste paar jaar gedoen het, gaan hy in 2012 net 80 eksklusiewe optredes doen. “Hy gaan ook nie by die groot feeste te sien wees nie. Mense sal moet spring vir kaartjies as hulle dié onvergeetlike show wil sien,” vertel Louis.

Dit is 15 jaar sedert Kurt die musiekwêreld betree het. In dié 15 jaar het sy musiek sinoniem geraak met braai, sokkie en rugby-byeenkomste. Hy het ’n kultuur geskep wat menige Afrikaanssprekende slaafs navolg, en nou sien ons uit na die nuwe dimensie in sy loopbaan.

Maak besprekings vir 2012 se vertonings by Music Profile Management:
E-pos: louis@musicprofile.co.za
Skakel: 012 991 4102 of 012 991 4611

Hou www.musicprofile.co.za en www.kurtdarren.co.za dop vir meer inlgiting

Volg ook vir Kurt op Twitter: KurtOfficial

Kyk net al Kurt se toekennings:

2003

GMT Liedjie van die jaar: “Meisie Meisie”

2005

GMT Beste pop-vrystelling van die jaar: Staan op!

2006

Vonk-toekenning Vrystelling van die jaar: Vat my, maak my joune

Vonk-toekenning Beste musiekvideo: “Alleen”

2007

Huisgenoot Tempo-toekenning: Topverkoper vir 2006

SAMA-toekenning Beste Afrikaanse dansvrystelling: Lekker Lekker

2008

Huisgenoot Tempo-toekenning Populêrste manlike kunstenaar

Huisgenoot Tempo-toekenning Beste dansvrystelling: Voorwaarts mars

Vonk-toekenning Gunsteling- manlike kunstenaar

Vonk-toekenning Vrystelling van die jaar: Voorwaarts mars

Vonk-toekenning Afrikaanse musiek-ambassadeur vir 2008

 

2009

Vonk-toekenning Beste manlike kunstenaar

Vonk-toekenning Topverkoper vir 2008: Uit die diepte van my hart

SAMA-toekenning Beste sokkie-vrystelling: Uit die diepte van my hart

SAMA-toekenning Beste Afrikaanse DVD: Treffers Live

Huisgenoot Tempo-toekenning Beste dans-album

Huisgenoot Tempo-toekenning Beste manlike kunstenaar

Huisgenoot Tempo-toekenning Topverkoper: Uit die diepte van my hart

2010

Huisgenoot Tempo-toekenning Gewildste sokkie-album: Die beste medisyne

SAMA-toekenning Topverkoper-luitoon van internet afgelaai: “Kaptein”

SAMA-toekenning Topverkoper onder volledige liedjie van internet afgelaai: “Af en af”

2011

SAMA Beste sokkie-album: Die beste medisyne

  • Aletta Von Benecke

    Sien uit daar na hou so aan kurt jy is ons ster
    alles vir die beste voor en toe

  • Anti-Kurt Darren

    Ek het alle respek vir hom verloor net die KKNK 2011, het my amper onderste bo geloop. En toe ek wou vra vir ‘n foto saam hom en sy vroutjie, word ek soos ‘n stopstraat geignoreer. So ek stel glad nie belang om enige show van hom te kyk nie.

    Pasop vir die dag wat jy met ‘n slag gaan terugkom aarde toe, want jy gaan baie hard val.

  • Bielie

    ‘n Album van sy grootste treffers? Hoeveel snitte gaan dit he? Twee? Drie?

  • KannieKlasKoopNie

    @Bielie: ‘n Album van Kurt se grootste treffers gaan ongelukkig nogal baie snitte op hê.

    ‘n Album van sy kwaliteit-liedjies, wat van ware talent en oorspronklikheid getuig, sou daarenteen redelik kaal uitgekom het…

  • Monica

    Sy live shows is baie vervelig!! Miskien sal dit beter gaan indien daar n orkes en dansers bykom. Dink egter hy moet ander minder bekende kunstenaars ook insluit,maar hy wil gewoonlik al die aandag geniet,dus sal hy nooit daaraan dink nie. Een show van hom was genoeg vir my! Wat jukebox betref,Pieter Koen is n baie,baie beter aanbieder.

  • Stef

    "4 splinternuwe leidjies" agge nee. net nie dit nie my ore pyn klaar.

  • Coba Badenhorst

    Ek moet saam met ‘anti-Kurt’ stem…..
    Kurt sal ook moet oppas om nie snert soos ‘Wegkruipertjie en ‘so bek moet jam kry’ sing nie….etc.
    Moet darem nie die publiek se intellegensie onderskat nie….dink hy kan enig snert sing en ons
    gaan dit koop nie…..nee, wat…..ek spandeer my geld op kunstenaar wat moeite werd is. Hy kan gerus bietjie raad gaan vra by Andre Schwartz……….dis a ware kunstenaar….!!

  • andre britz

    dit wys hoe common afrikaners is daar is soveel goeie musiek en dan luister ons na die parra

    ouens soos gert vlok nel ,bachus nel ,piet botha ens maar nee

  • Elsabe

    Ja ja, ‘soos ons Kurt nog nooit gesien het nie’. Seker ‘n klomp kg’s afgeskud en sy naam verander na KD. Ja wel, soms is dit nodig om veranderinge te maak anders stagneer jy. En jy kan veranderinge/nie-veranderinge aan jou sak voel. En die man is nie meer net 1 nie, daar is nou twee in die huishouding, miskinen binnekort drie. En ons almal weet hoe die resessie aan jou beursie kan vreet. Dat hy gewild is, is nie te betwyfel nie. Kyk maar net na die bruilof… moes miljoene gekos het, of miskien was dit borge en ads?

  • Carina

    Stem saam met Anti-Kurt, sy roem en geld het hom ‘n grootkop gegee. Ek het al by baie mense gehoor hoe ongeskik hy met die mense is. Hy het gou vergeet wie die mense is wat hom bo uitgebring het en wie hom skatryk gemaak het.

  • deb

    is hy nie "as nuut" gemarket voor elke nuwe cd nie … gaap

  • Nettie

    Ek hou van Kurt se ballades. Nie die dans musiek nie. Maar cudo’s as hy ‘n nuwe rigting wil inslaan. Hopelik meer ballades wat myns insiens meer reg aan sy stem laat geskied. Tot nou toe was dit om die mark tevrede te hou (en waar die geld is) in die kort nonsens dansgoedjies waar sy stem nie tot sy reg kom nie. Ek verstaan die probleem en ek dink dit moet nogal frustrerend wees om die maatskappye gelukkig te hou terwyl jy weet jy het baie meer "hier binne". Ek wens net hy en een van ons ander top sangeresse wil minder botox gebruik. Dis SO obvious, hulle kan dit maar liewer los of ‘n dokter kry wat nie die hele gesig verlam nie.

  • Anti-Kurt Darren 2

    KOTS!

  • Meisie Botes

    Hou so aan Kurt ons is baie trots op jou, die mense wat sulke suur knolle is vergeert van hul, hul is nooit tevrede met wat jy ook al vir hul gee, waardeur nooit iets goed nie,
    ONS IS MAL OOR JOU

  • Ann Koen

    Stem saam met anti-Kurt D, hy kan nogal ongeskik wees as mens vra vir fotos en vergeet gou wie al sy albums gekoop het en waar die geld vandaan kom! Stel nie meer belang om enige shows te gaan sien nie. Ek koop eerder die CD’s van goeie sangers.

  • Corné Swart

    Sukses kom met harde werk/opofferings/effort – hy doen al die dinge (het self saam hom gewerk) & hy is nie bang vir ‘n uitdaging! Hoekom is dit as mens weet wat jy wil hê en wat dit vat om dit te kry, is jy altyd misluk/ongeskik ens…dan kry jy die mense wat ‘n irretasie is & niemand privaatheid/hul eie tyd gun nie. Gelukkig is daar keuses… Hou so aan Kurt!!!

  • shaun

    ek is mal oor sy musiek, net soos al die ander SA kunstenaars. ek was nog nooit op een van sy konserte nie alhoewel ek gewaarsku is dat sy "live " shows teleurstellend is. ek gaan Saterdag na kurt se vertoning toe by die Roodepoort rugby Club en sien nogal uit daarna " my 1st "

    party mense het dit of het dit nie om live op te tree nie party tree live op maar sing soos n kat wat kleintjies kry. al wat ek sê ons moet die afrikaanse taal en musiek ondersteun so vê as wat ons kan.

    Van my kant af Kurt: brake a leg. sterkte en hou so aan.

  • Marius V

    Alles goed en wel, maar die vyf musikante en vier dansers gaan nie die vals note en gebrek aan persoonlikheid regruk nie. Ek is seker daarvan dat Kurt ‘n baie nice ou is, en weet ek dat sy musiek op groot aanvraag is by partytjies – die verwerking van sy CD’S is puik. Die probleem is egter dat die gehoor wil deel voel van die konsert, hulle wil ingesluk word. Op die oomblik sukkel Kurt met die note by sy "live" shows en het hy (nog) nie ‘n aantreklike verhoogpersoonlikheid nie. Mense gaan kyk nie na ‘n konsert omdat die sanger ‘n band en dansers het nie, hulle gaan kyk na ‘n konsert omdat hulle van die sanger hou. Dus hoef Kurt nie al hierdie onkostes aan te gaan nie, hy moet net bietjie meer met die mense interact en bietjie oefen aan daardie stembande. Ek is bekommerd oor die shows wat so drasties gaan afneem. Dit beteken dood eenvoudig net die volgende: Kurt se optrede fooi gaan die hoogte inskiet en kaartjiepryse gaan duurder wees omdat die kliënt deur middel van kaartjie verkope geld genereer om Kurt se fooi te betaal. Die rede waarom die fooi opgaan is omdat die onkostes nou soveel duurder is. Dansers en musikante is beslis nie goedkoop nie en moet die ander toer onkostes ook in ag geneem word: brandstof, tolhekke, verblyf, etes, sluiting op voertuie, bande, ens. Kom ons kyk wat gebeur.

  • Charlene

    Nee wat dankie, hou maar eerder verby.

    My suster vertel hy’t die ander dag in ‘n bepaalde dorpie in ‘n bepaalde kroeg ingestap, haar (my suster – wie toevallig niks van sy musiek OF hom hou nie) in die oë gekyk en kliphard gesê: GEEN HANDTEKENINGE NIE!

    Sowat van ‘n ego!

    Ek weet nie eers waar om te begin nie!

    Soos ons hom nog nooit gesien het nie? Stil? Sonder hang-oë? Aantreklik? Talentvol? Help – ek verstaan nie…?

  • Tazzy

    @ Anti-Kurt Darren – dit is gedrag wat tipies van hom is.

    @ Corné Swart – ek is baie bly hy het so hard gewerk om te kom waar hy is. En ja, daar is mense wat irritasies veroorsaak en nie vir kunstenaars hulle privaatheid/spasie gun nie. Maar regtig nou. As ‘n kunstenaar by ‘n plek soos die KKNK ‘n DAME uit die pad stamp en daar ongeskik raak oor fotos/handtekeninge, dan moes hy eerder maar in sy hotel/gastehuis kamertjie gebly het tussen vertonings. Elke kunstenaar wat by so ‘n fees/optrede is, weet wat vir hulle wag.
    Mens kry gelukkig die Lochner de Kock’s, Richard Van Der Westhuizens ensomeer wat maniere het en altyd met ‘n glimlag by sulke geleenthede is, al is hulle moeg en geirriteerd.

  • The Duke

    Kurt en sy aanhangers is ewe vervelig en is vasgevang in ‘n doolhof van tonnelvisie en drome om soos Steve, Lianie en Quintin te sing. Was nog nooit ‘n sanger nie, vat weg die agtergrond musiek dan praat ons weer…

  • JakesvanDae

    Nuwe Kurt? Wat van ‘n nuwe foto? Sy gesig is rond deedae, die foto’s wat hy nou nog vir sy publisiteit gebruik is seker 10 jaar terug geneem. Ek vermoed panic stations in die Kurt en Select huisie.