FOTO Instagram @ryanlochte

FOTO Instagram @ryanlochte

#SARIEsport

Kyk wat het dié atlete gedoen

As daar medaljes was vir slegte gedrag, sou dié Olimpiese atlete beslis met die goud, silwer en brons weggeswem het!

Amerikaanse atlete sê hulle is beroof … maar hulle was nie!

Vier Amerikaanse atlete het beweer hulle is vroeg die oggend van Sondag 14 Augustus by ’n vulstasie in Rio beroof. Maar by ’n nuuskonferensie het die Brasiliaanse polisie Donderdag ’n ander storie vir die media vertel, berig CNN.

Ryan Lochte het in ’n onderhoud aan NBC vertel hoe hy, Gunnar Bentz, Jack Conger en Jimmy Feigen in die vroeë oggendure deur gewapende rowers (vermom as polisiemanne) beroof is. Selfs Gunnar en Jack het aan die Brasiliaanse polisie gesê Ryan se weergawe van wat gebeur het, is ’n wolhaarstorie.

Kyk die CCTV-video van die atlete die Sondagoggend by die vulstasie:

 

’n Franse swemmer word gediskwalifiseer

Praat van vuilspel! Die Franse swemmer Aurelie Muller is gediskwalifiseer nadat sy die Italianer Rachele Bruni se kop by die wenstreep onder die water gedruk het om die silwermedalje voor haar weg te raap in die 10 km-swem, berig KIIS1065.

“By die wenstreep het die Franse swemmer my gekeer sodat ek nie aan die bord kon raak nie. Ek is bly die beoordelaars het regverdig opgetree,” het die Italianer in ’n onderhoud gesê.

Kyk die video hier:

 

Australiese swemmers verban van die afsluitingseremonie

Die swemmers Josh Palmer en Emma McKeon het nie die afsluitingseremonie bygewoon nie, nadat hulle een aand te laat uitgebly het, berig KIIS1065. Dié twee het saam met ander swemmers uitgegaan en was die volgende oggend om 04:00 steeds nie terug by die Olimpiese kamp nie.

Josh Palmer se foon en beursie is in die loop van die aand gesteel en Emma het by vriende oornag sonder om hul bestuurder te laat weet. Ná die voorval is ’n streng klokreël vir albei swemmers ingestel.

 

Jubelende Amerikaanse aflosspan gediskwalifiseer

Dalk nie ’n skandaal nie, maar die Amerikaanse span in die 400 m-aflosspan vir mans het al begin feesvier toe die aankondiging kom dat hulle gediskwalifiseer is, berig Reuters. Die span was oorspronklik derde in dié eindronde ná Jamaika en die naaswenners Japan. Maar Mike Rodgers het die aflosstok te laat aan Justin Gatlin oorhandig, wat tot die diskwalifikasie gelei het. Glo dit of nie, maar sedert 1995 is dit die negende keer wat dit met ’n Amerikaanse span gebeur het.

 

Lees nou

Kyk die hoogtepunte van die Olimpiese Spele

Hoe goed ken jy die lande by die Olimpiese Spele?

Vlietende Olimpiese roem vir atleet