Het jy gehoor?

Kylie Minogue kies toneelspeel bó sing, vir nou

Dié eerste liefde is aangevuur nadat Kylie verlede jaar in die Franse fliek Holy Motors gespeel het.

Die sangeres en haar bestuurder se paadjies het amptelik ná 25 jaar op Oujaarsdag geskei. Terry Blamey het Kylie se loopbaan help vestig sedert sy in 1987 met die liedjie “Locomotion”getref het.

Terry het in ’n verklaring gesê dat hulle op vriendskaplike voet uitmekaar is.

Kylie het hierna vinnig op Twitter gereageer om haar bewonderaars gerus te stel dat dít nie die einde van haar sangloopbaan beteken nie.

Kylie Minogue se twiet

Die 1,57 m lange ster het in die jare tagtig bekend geword vir haar rol as Charlene in die Australiese sepie Neighbours. Hierna het sy in verskeie flieks gespeel, waaronder Moulin Rouge, Street Fighter en The Delinquents.

Holy Motors is ’n wetenskapfiksie-rolprent en het by die Cannes-rolprentfees groot lof gekry. Hierin speel Kylie ’n lugwaardin teenoor sterre soos Eva Mendes en Denis Lavant.  

Die pragtige blondine wat in 2005 met borskanker gediagnoseer is, sê sy moes ekstra hard werk vir dié fliek: “Ek moes dinge afleer wat ek natuurlik doen as ek net ‘Kylie’ is. So ek het ekstra werk gehad om daarvan ontslae te raak en ’n geloofwaardige karakter te wees.”

Kylie het reeds verlede jaar aan die Britse koerant The Guardian gesê dat sy graag meer wil toneelspeel. “My hart roep uit, ek het so ’n diep hunkering daarna. Ek het jare gewag om weer in die bedryf te kom, maar dit het net nie gebeur nie.”

Kylie speel ook in die Britse fliek Walking on Sunshine wat vanjaar vrygestel word.