lady_gaga_afp
Het jy gehoor?

Lady Gaga en ander sterre se PA’s onthul skokkende versoeke

Twee voormalige persoonlike assistente wat vir sterre soos Lady Gaga, Naomi Campbell en Claire Danes gewerk het, onthul dat hul werk geen grense ken nie, berig New York Post.  

Jennifer O’Neill is op die oomblik in ’n hofsaak gewikkel met haar voormalige werkgewer, Stefani Germanotta, oftewel Lady Gaga. Jennifer dagvaar haar vir $390 000 (ongeveer R3,4 miljoen) vir skadevergoeding en onbetaalde oortyd.    

“Vir ’n PA is daar nie iets soos oortyd nie, ook nie iets soos om jou eie lewe te hê nie. Jy is getroud met hierdie mense. Jy is letterlik in ’n verhouding met hulle,” sê die 39-jarige Jennifer.

Lady Gaga

Vir ’n jaarlikse salaris van $75 000 (ongeveer R660 000, of R55 000 per maand) moes Jennifer ’n bed met Lady Gaga deel, want na bewering slaap dié sangeres nooit alleen nie (dit is nie Jennifer in hierdie foto nie). Jennifer moes ook 24 uur per dag, 7 dae ’n week bereikbaar wees.

In die hofdokumente het Lady Gaga blykbaar na haarself verwys as die “koningin van die heelal, elke dag” en gesê dat Jennifer net nie haar werk gedoen het nie. Volgens haar het Jennifer nie haar tandeborsel en seep vir haar reggesit of haar tasse rondgedra nie.

Naomi Campbell

Rebecca White het weer byna 5 jaar vir die Britse supermodel met die berugte humeur, Naomi Campbell, gewerk. Rebecca sê Naomi sou mense intimideer en op hulle gil. “Sy kry mag oor mense deur hulle te laat huil.”

Rebecca moes dieselfde roetine volg by elke hotel waarheen sy saam met Naomi gereis het. Eers moes sy vooruit bel sodat die hotelwerkers haar klere kan uitpak, stoom en stryk. Dan moes Rebecca al die inhoud uit die mini-yskas verwyder. En dan moet sy 25 lelie-gegeurde kerse oral in die hotelkamer plaas – 5 in die badkamer, 10 in die slaapkamer en 10 in die leefkamer.

Die yskassie moes leeg wees om te bewys dat Naomi nie drink nie. Maar dan het sy in Rebecca se kamer ingegaan (waar die klein botteltjies alkohol gebêre is) en daar gaan drink.

Claire Danes

Rebecca het ook 17 jaar gelede vir Claire Danes, nou die ster van die televisiereeks Homeland, gewerk nadat sy die rol van Juliet in Romeo en Juliet met Leonardo DiCaprio losgeslaan het.

Sy onthou hoe sy vir Claire by Yale Universiteit, waar sy studeer het, moes aflaai en haar koshuiskamerbed vir haar opgemaak het.  

“Daar is verskillende grade van PA: daar is die persoon agter in die kantoor wat faks en e-pos, maar my werk was om hulle beste vriend te wees. Dit is hartseer, maar waar,” sê Rebecca. “Van buite lyk dit of die sterre alles het – geld, roem, vriende – maar hulle het nie. Roem kan alleen wees …”