FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Het jy gehoor?

Lauren Copley se eerste album in 40 jaar

Die sangeres Lauren Copley, wat in die 70’s as tienersensasie op almal se lippe was, is ná 40 jaar terug met ’n nuwe album.

Op net 11-jarige ouderdom het sy haar eerste album, Seven Years Older than Four, uitgereik. Dié album, met treffers soos “Kentucky Blues”, “It’s too late now” en “Flower of Life”, het gou vir haar sterstatus gebring en dit word vandag nog op plaaslike radiostasies gespeel.

Min privaatheid, en die feit dat sy nie werklik kreatief tot haar eie musiek kon bydra nie, het haar op 20 laat besluit om eerder universiteit toe te gaan en ’n loopbaan as joernalis te volg.

Ondersteuning van haar broer Bruce, en onophoudelike versoeke van die publiek, het haar uiteindelik oortuig om ná 40 jaar weer ’n album op te neem. Dié keer het sy dit op haar eie manier gedoen. Sy het sélf die liedjies gekies, waaronder persoonlike gunstelinge uit die 70’s en 80’s en ’n paar moderne liedjies. Haar goue treffers “Kentucky Blues” en “It’s too late now” sal ook op die nuwe album wees.

Lauren is nie die enigste bekende in dié talentvolle familie nie. Die liedjieskrywer en sanger Donovan Copley, veral bekend as die sanger in die gewilde groep Hot Water, is haar broerskind, en sy ander broer is die Hollywood-akteur Sharlto Copley wat teenoor Angelina Jolie in Maleficent speel en saam met Matt Damon in Elysium te sien is.

cover Chrysalis by Lauren Copley

Lauren se nuwe album Chrysalis word 11 Junie 2015 uitgereik en sal ook digitaal op iTunes beskikbaar wees.

Lees ook