Het jy gehoor?

LeadSA – Jý kan ook ‘n verskil aan ons land maak!

Wat is LeadSA?
Ons het pas een van die grootste sportgeleenthede in die wêreld aangebied – en met groot sukses! Ons kan trots wees. As daar een ding is wat uitgestaan het tydens die Wêreldbeker-sokker is dit ons ubuntu, ons warmte en leierskap. Hoekom hier stop? LeadSA is ‘n inisiatief wat streef om ons te herinner dat ons onself kan verander, ook ons land en dat ons die vermoë het om leiers te wees!
LeadSA vier Suid-Afrika, ons leiers, soos Nelson Mandela, en gewone mense soos ek en jy. Ons maak ‘n verskil aan ons land deur klein treetjies wat ons elke dag neem. Dit is immers die klein dingetjies wat op die ou end ‘n groot verskil maak. Lead SA beteken mense in magsposisies sal verantwoordelik gehou word vir hul aksies.

Hoe kan jy betrokke raak?

Dit is eintlik heel eenvoudig. Dit begin by jóú. Jóú aksies het onteenseglik ‘n invloed op die mense rondom jou. Deur positiewe gedragsverandering kan jy ‘n massiewe, positiewe effek op die wêreld hê.

Staan op vir dit wat reg is.
Staan op vir geregtigheid.
Staan op vir omgee en respek.
Staan op vir die toekoms wat jy vir jou gesin en familie sien.

Staan op vir jou gemeenskap
Staan op en LeadSA!

Klein dingetjies, soos deur vir ‘n vreemdeling te glimlag, deur nie rommel te strooi nie, maak ‘n verskil.

Kies om Suid-Afrika eerste te plaas.

Ghandi het gesê: Be the change you want to see. LeadSA vra juis dit! Ontwikkeling en groei in ons land op alle vlakke word deur die inisiatief voorgestaan.

Besoek Leadsa.co.za om die video te kyk!

Wat het jy al vandag gedoen om ‘n verskil te maak?

Michélle van Breda skryf in haar Augustus-redakteursbrief: “Ons het dit gedoen! Ons het dit waaragtig gedóén,het ek gedink. SA het teen die wêreld (en dikwels ons eie) verwagtinge in met sukses die grootste skouspel op die planeet aangebied.Iets wat nog net 16 ander lande kon regkry. En hierdie eer kom jou en my en almal om ons toe.

“Ons wat die besoekers ontvang en bygestaan het, ons wat ons huise oopgemaak en nuwe vriende gemaak het. Ons wat die stadions, paaie en lughawens gebou het. Ons wat in lang toue gestaan het om kaartjies te koop en die fan walks en fan parks in ons derduisende ondersteun het.

“Ons wat gul agter ander lande gestaan het toe ons eie Bafana uitgeval het en ons hart op die ou einde vir Ghana gegee het.

“Laat ons nóóit weer dink ons kan nie of ons is nie goed genoeg nie. Hierdie is nie die einde nie,maar die begin. Hoop is wat SA weer nodig gehad het om die vele uitdagings op ons pad vorentoe aan te pak.

“Ons kán maar ons makarapas opsit en ons vuvuzelas op ons toekoms blaas. Want hierdie is die gees van ‘n wenner!”