FOTO Facebook / @LeahSA

FOTO Facebook / @LeahSA

Het jy gehoor?

Leah se 5 skoonheidsgeheime

Sy word vanjaar 30, maar vir die Afrikaanse sanger Leah is dit net ’n nommer. Sy voel immers nog net 23.

Nie 25 nie? “Nee, 25 is gans te algemeen! Ek hou van 23,” sê sy laggend.

Leah se dagboek is propvol konserte en ’n nuwe album, Wonderwerk (Deluxe-weergawe), verskyn Vrydag op iTunes. “Maar ek verkies dit om besig te wees. Ek hou nie daarvan om te sit en niks te doen nie. Ek geniet dit om my drome te kan uitleef.”

Gelukkig gaan sy vir vier dae kan wegglip Mauritius toe saam met haar man, Hennie, en ses ander paartjies.

“Ons gebruik sommer die wegbreek om ons huweliksherdenking te celebrate.  Ek en Hennie is vanjaar in November drie jaar getroud. Maar ek is te besig in November. Die getroude lewe is wonderlik. En ag, ou Hennie is oulik.”

Hulle het mekaar op Stellenbosch ontmoet toe albei daar studeer het. Kyk hul sprokiestroue hier.

FOTO: Wendy Thomas, ART PHOTO

FOTO Wendy Thomas, ART PHOTO

As klein dogtertjie was Leah reeds ambisieus. “As iemand vir my gesê het ek kan iets nie doen nie, sou ek dit juis doen om vir hulle te wys dat ek kán.”

Dié Ghoema-wenner is onlangs ook by die Bokkie-toekennings aangewys as beste vroulike kunstenaar. Sy is een van die stemkunstenaars in die Afrikaanse animasieprent Die Sneeukoningin 2, én sy sing die temalied wat deur Johan Vorster geskryf is.

“Musiek inspireer my en dis ’n voorreg om dit vir ’n lewe te kan doen. In moeilike tye dryf dit my om positief na ’n situasie te kyk.”

Leah se 5 skoonheidswenke

Die blondekop en blouoog deel haar wenke spesiaal met SARIE.com.

1. Drink baie water

“Ek probeer om baie water te drink. Soms vergeet ek, maar ek voel baie goed as ek genoeg water drink.”

2. Probeer om elke maand vir ’n gesigbehandeling te gaan

“Ek sien die verskil in my vel. En dis belangrik om jouself te bederf en om jou vel mooi op te pas.”

3. Kry die regte gesigprodukte vir jóú vel

“Ek het baie gesukkel met my vel toe ek jonger was en moes ’n dermatoloog raadpleeg oor die regte velsorgprodukte vir my. Nou werk my vel ook sommer saam.”

4. Oefen gereeld

“Die motivering is soms moeilik, maar ek gaan gim toe en doen een keer per week Body20, wat net 20 minute is. Verder spring ek op en af op die verhoog, so dis seker ook my oefening.”

5. Pas jou hare mooi op

“Ek het baie dun hare en probeer om nie my hare te veel te kleur nie.”

Kyk van Leah se musiekvideo’s hier:

Lees nou

Dié jas het sy eie Instagram

Aknee dalk die rede vir ’n jonger vel

Hollywood: Swanger bo 40