Leandie du Randt by die première van Pad na jou hart
FOTO: Phyllis Green

Leandie du Randt by die première van Pad na jou hart FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

Leandie du Randt is gereed vir aksie

“Ek is gereed. Ek weet wat om te doen, ek moet dit nou net onthou,” vertel Leandie du Randt ure voor haar eerste verskyning op Strictly Come Dancing.

Die aktrise, bekend vir haar rolle in Getroud met rugby en Die Windpomp, neem vanjaar aan dié dans-reeks deel wat vanaand op SABC3 begin wys. Sy vertel sy en haar dansmaat, Brandon Eilers Le Riche, ken hul dansroetine al perfek en fokus nou net op die laaste afronding.

“Ek is nogal gestres. Dis nou druktyd,” verklap sy. Gelukkig kom sy en Brandon baie goed met mekaar oor die weg.

“Ons het al baie gelag en hy het my al sien huil ook. Hy sê heeltyd vir my ek moet net relax en nie so perfeksionisties wees nie, want ek wil alles van die begin af perfek doen,” wei sy uit.

Leandie in die Strictly Come Dancing-dansstudio FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

Leandie in die Strictly Come Dancing-ateljee
FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

Toe die aktrise aan die begin van die maand met SARIE.com gepraat het, was haar voete stukkend en moeg van al die danswerk. Nie meer nie …

“My voete is nou al hard en my skoene is lekker sag. Dis eintlik vir my lekker om die skoene aan te trek.”

Vanaand is Leandie en Brandon een van vyf paartjies wat die cha-cha dans. “En ek het die hele Beyoncé-look, want ons dans op die musiek van haar liedjie ‘Run the World’ – my hare gaan gróót wees.”

Haar hare is reeds fyn krulletjies gemaak wat opgesteek is om te verseker dat die volume langer inbly en haar grimering is ure gelede al klaar gedoen.

Gereed vir aksie! Byna... Leandie se hare word gekrul vir vanaand se vertoning FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

Gereed vir aksie! Byna… Leandie se hare word gekrul vir vanaand se vertoning
FOTO: Instagram (@leandiedurandt)

Haar pa, broer en skoonsuster, twee van haar vriendinne én haar kêrel, Bouwer Bosch, is vanaand in die gehoor. Hulle is glo baie opgewonde om haar in die program te sien.

“Ek sal niks wees sonder my ondersteuningstelsel nie. Dis lekker om te weet my mense is in die gehoor, dat hulle my sal ondersteun, maak nie saak wat nie,” sê sy, versigtig optimisties.

“In my hart glo ek ek gaan dit doen, maar ons sal maar sien. Ek moet dit net glo ook.”

Nóg oor Leandie op SARIE.com