Het jy gehoor?

Leandie du Randt praat oor haar ma se Alzheimersiekte en dood

Die 25-jarige Leandie du Randt is die jongste sensasie in die vermaakbedryf. Maar hierdie jaar het sy ook hartseer beleef toe haar ma in Mei-maand gesterf het. Sy gesels met SARIE se Gloria Cilliers hieroor.

Aktrise Leandie het eers naam gemaak as Mieke in die kykNET-reeks Getroud met rugby. Toe ons harte gesteel in die flieks Klein Karoo en Die Windpomp. Ons laat skaterlag in die kykNET-komedie Moeggeploeg. Boonop kan dié Strictly Come Dancing-deelnemer ook ’n paar flieks agter haar naam skryf: Hollywood in my huis, Strikdas en Mooiriver wat almal binnekort bekend gestel word.

En alhoewel sy baie positief is, het sy vanjaar ’n moeilike tyd deurgemaak.

Haar ma, Elmarie, het sewe jaar lank aan Alzheimersiekte gely en is in Mei oorlede.

In Leandie se eerste jaar as BCom(bedryfsielkunde)-student aan die Universiteit van Johannesburg is Alzheimersiekte by haar ma gediagnoseer. “Die laaste SMS wat sy vir my gestuur het, was om my aan te moedig met my studies. ’n Maand later kon sy nie meer SMS of bestuur nie. Eers was dit vir my so embarrassing. Ek het nie my vriendinne vertel nie, want ek het self nog gesukkel om daarvan sin te maak. Sy was dan so gesond en hardwerkend. ’n Slim, dinamiese vrou.”

Leandie se ma as jong vrou FOTO: Instagram

Leandie se ma as jong vrou
FOTO: Instagram

Die dokters het verduidelik dat die korttermyngeheue-deel van Elmarie se brein nie suurstof gekry het nie toe sy 24 uur lank in ’n koma was ná die geboorte van Leandie se ouer broer, Corné.

Leandie en haar broer, Corné, as kinders FOTO: Instagram

Leandie en haar broer, Corné, as kinders
FOTO: Instagram

“Dit het glo veroorsaak dat die neurone in daardie deel van die brein stelselmatig afgebreek het. Die simptome het 27 jaar later eers skielik kop uitgesteek. Waar een fase gewoonlik sewe jaar kan duur, is my ma deur al vier in sewe jaar: van vergeetagtigheid, irrasionele optrede tot woedeuitbarstings en aggressie; en laastens, wanneer jy beheer verloor oor jou liggaamsfunksies en niemand meer herken nie.”

Sy was ’n ruk lank kwaad oor die “bitter moeilike situasie” en dat daar só ’n ongeneeslike siekte bestaan, onthou Leandie. “Vir my was die ergste om te sien hoe dit haar van haar menswaardigheid stroop,” sluk sy die trane weg.

Haar ma het haar in Januarie verlede jaar die laaste keer hulle plek in ’n inrigting vir haar gekry. Sy’s vanjaar op 5 Mei oorlede.

“Vandag is ek oor een ding spyt,” sê Leandie. “Dat ek nie tyd gehad het nie om haar vergifnis te vra vir die tye wat ek as stupid tiener met haar gestry het, of vir haar dankie te sê vir alles wat sy vir my gedoen het.”

september corne crous corné kim 7de laan

*Lees die volledige onderhoud met Leandie in die September-uitgawe van SARIE.