Het jy gehoor?

PG van Koöperasiestories word op 80 vereer

Dr. PG du Plessis, die legendariese skrywer van onder meer Koöperasiestories, Siener in die suburbs en Fees van die ongenooides, word binnekort op sy 80ste verjaardag vereer.

’n Groot konsert word beplan om PG se 80ste verjaardag op 14 Julie te vier. Van sy gunsteling-akteurs en -musikante span hul kreatiewe kragte saam vir dié geleentheid by die Atterburyteater in Pretoria.

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Frank Opperman, Elize Cawood, Anna Davel, Richard van der Westhuizen, Pietman Geldenhuys, Christo Davids en Alexa Strachan is onder die Afrikaanse bekendes wat aan dié geleentheid gaan deelneem.

“PG verwoord ons menslikheid. Die woede, nyd en kwaadheid wat ons voel, vang hy vas in woorde en laat ons tuis voel,” vertel Alexa aan SARIE.com.

Hy is in elkeen se hart wat Afrikaans praat

– Alexa oor PG

PG is nog lank nie klaar met stories nie. Dié dramaturg, skrywer, storieverteller en volksikoon het ons jare lank laat lag én huil met sy Koöperasiestories, en binnekort volg ’n hele paar nuwe projekte.

Frank Opperman, Elize Cawood en Deon Lotz vertolk die hoofrolle in Pandjieswinkelstories, PG se nuwe TV-reeks wat op 15 Julie op kykNET begin. Hy werk ook saam met Matthys Maree (bekend vir sy bydrae tot die Afri-Spaans- en Afri-Frans-projekte) aan die nuwe musiekblyspel Legende van die lokvoël. In 2015 gaan ons ook vir Christo Davids in die nuwe weergawe van PG se Siener in die Suburbs sien.

* Kaartjies vir PG se 80ste verjaardagkonsert op 14 Julie 2014 is beskikbaar by Computicket of die Atterburyteater in Pretoria. Kaartjies kos vanaf R200 elk.