Leon S 2
Het jy gehoor?

Leon Schuster gaan weer trou

Die komediant Leon Schuster het aan Netwerk 24 vertel hy beplan om sy vriendin, Amanda Coetzee, oor twee maande te vra om te trou.

Hy wil graag die groot vraag op haar verjaardag, 12 November, vra. Alhoewel daar twee dekades tussen hulle is, is hulle dolgelukkig. Volgens Netwerk 24  het hulle in 1999 ontmoet en ’n verhouding gehad, maar dit het nie uitgewerk nie. Nadat hulle mekaar weer verlede jaar raakgeloop het, het hulle weer probeer en dié keer is dit net reg.

Leon het in Oktober 2013 aan SARIE vertel een van sy grootste vrese is om alleen oud te word.

“Ek sal dit laaik om ’n vrou te hê met wie ek oor die weg kom. Dís waar ek ’n leemte het.” Hy het gesê hy soek iemand wat hom kan ondersteun. Liefhet. Die bedryf verstaan. “Daarom sal dit ’n baie spesiale girl moet wees.

“Ek’s bang daarvoor. Ek sal graag ’n partner aan my sy wil hê vir my oudag. Ek sien die ellende van oumense in die ouetehuis in Bloemfontein waar my ma, Jessie, bly. Ek’s van kleintyd af baie na aan haar. Sy is nou 92. Haar dood is onafwendbaar en dis ’n groot vrees … dáái hartseer wat ek antisipeer. Daarom, veral, hoop ek om dan iemand in my lewe te hê wat my deur só ’n tragiese gebeurtenis kan bystaan,” sê Leon.

“Ek soek ’n vrou wat vir my hart gaan, wat vir Leon die mens gaan.”

Ons is baie bly dat Leon dié vrou gevind het! Alle voorspeod vir julle!

Die uitgawe waarin Leon met SARIE gesels het is nie meer te koop nie, maar laai die volledige artikel HIER af.

Lees ook