FOTO: Henk Hattingh

Het jy gehoor?

Leonardo se groen woonstel PLUS maak jou huis groener in 4 stappe

Leonardo DiCaprio het onlangs $10 miljoen (sowat R103 miljoen) spandeer aan ’n luukse woonstel in New York. Nie net is die blyplek in ’n gesogte gebied van dié wêreldstad nie, dit is glo ook goed vir jou gesondheid, berig New York Post.

Ná DiCaprio se aankondiging dat hy hom ’n ruk aan die filmbedryf gaan onttrek – hy was onlangs in die hoofrol in die bekroonde film The Wolf of Wall Street – het hy sy tyd en aandag na die eiendomsmark verskuif.

Leonardo het miljoene dollars uitgegee op ’n 2-slaapkamer-, 2½-badkamer-woonstel. Dié woonstel is op die vierde vloer van ’n Delos-gebou in New York se Greenwich Village. Geboue wat deur die Delos-groep ontwerp is, is van die wêreld se duurste en mees gesogte geboue. Hy bly glo hier saam met sy 21-jarige meisie, die Duitse model, Toni Garrn.

Maar dié duur woonstel is nie sommer enige woonstel nie. Die hele gebou het ’n WELL-sertifikasie vir sy holistiese benadering tot die inwoners se gesondheid en algemene welstand. Dié sertifikasie is die eerste in sy soort in die boubedryf en poog om mense se gesondheid in die beboude omgewing te verbeter.

Die water uit die stortkrane is gemeng met vitamien C, en die hele woonstel se water is gesuiwer. Die lug word ook gesuiwer en gesirkuleer met behulp van aromaterapeutiese olies.

Die vloere is gebou met refleksologie in gedagte om jou postuur te verbeter. Die beligting is ook aangepas om die natuur se dag- en aandpatrone te volg. Verder het die gebou ’n welstand-bestuurder wat al die inwoners se gesondheidsaktiwiteite en -ervarings koördineer.

Alhoewel só ’n woonstel net vir die rykstes beskore is, kan jy jou eie woning groener en gesonder maak met dié 4 stappe.

Maak jou huis groener in 4 stappe

1. Stort buite

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Benut Suid-Afrika se vars lug beter met ’n buitestort. Tuin-argitek Mandy Morton van Black Sunbird op Stellenbosch (082 377 4588) het ’n heerlike buitestort net langs haar badkamer ingerig. Sy het ’n dubbele stortkop laat installeer en dit welig laat toerank met onder meer ’n ster-jasmyn.

2. Maak jou stoep ’n leefarea

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Verf ’n tafel met kleurkalk (colour wash) om dit ’n vars buitelug-gevoel te gee. Blokkeer die son met ’n gordyn wat aan ’n metaaldraad hang. Soortgelyke rottangstoele en wit ornamente is by Mr Price Home te koop.

3. Asem geurige lug in

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

Vul jou kombuis met geur. Willie Schmidt van die Aspidistra-kwekery het dié plan bedink. ’n Nuwe of ou skoensak kan in ’n kits ’n kruie- of blaarslaai-tuin word. Vul die sakkies met grond en kompos en plant jou kruie hierin. Hang naby jou kombuis op.

4. Plant meer

FOTO: Henk Hattingh

FOTO: Henk Hattingh

As jy nie genoeg spasie het om ’n hele rits plante te plant nie, plant ’n toring. Vul 5 potte van klein na groot met grond en druk dit goed vas. Plaas die potte in ’n toring opmekaar en maak seker dis stewig. Plant verskillende soorte vetplante soos woestynrosies, sedum en crasulla in die buiterande.

* Wenke om jou eie woning groener te maak, kom uit SARIE, Maart 2013.