Hannes van Wyk speel koning Rosekrans en Margit Meyer-Rödenbeck Liewe Heksie

Hannes van Wyk speel koning Rosekrans en Margit Meyer-Rödenbeck Liewe Heksie

Het jy gehoor?

Liewe Heksie: Flower Power – ’n moet-sien vir oud en jonk

As jy lus het om lekker te lag vir sommige van jou gunsteling- Afrikaanse akteurs is Liewe Heksie: Flower Power net vir jou! 

Margit Meyer-Rödenbeck speel die rol van Liewe Heksie, en Bravo!-aanbieder Hannes van Wyk is koning Rosekrans. Ander akteurs in die pantomime is Chris van Niekerk (Karel Kat), Zanne Stapelberg, wat die feëkoningin speel, en die skreeusnaakse Loukmaan Adams as die geelheks, hy is ook die choreograaf.

Resensent Mariana Malan sê op Netwerk24: “Ek het laas soveel pret gehad op die ­slippery slide by die kerkbraai verlede somer. Liewe Heksie en al die ­geliefde karakters van die oorbekende stories is daar, maar hulle skop gat. Heksie (Margit Meyer-Rödenbeck) is vroeg al ’n regte rock chick en haar maats laat nie op hulle wag nie. Die hele gehoor word ­dadelik genooi om bollas los te maak en kuiwe te jel.”

As hierdie singende, spelende en grappige produksie in één woord opgesom moet word, is dit PRET! En boonop kan die hele gesin dit saam gaan kyk. Volwassenes kan selfs sonder kinders hierdie stuk gaan geniet!

Die regisseur, Lizz Meiring, meen dit is ’n samekoms van kleur, klank, spoed en energie. Die teks is aangepas van Verna Vels se oorspronklike Liewe Heksie-stories deur Francois Toerien en Margit Meyer-Rödenbeck.

Hier is ’n voorsmakie van wat jy te wagte kan wees

Liewe Heksie: Flower Power wys vanaf môre 19 Mei tot 31 Mei by die Stadskouburg in Bellville. Besoek Computicket vir meer inligting