36610682_0_Img1
Het jy gehoor?

Liewe Heksie se ma, Verna Vels, oorlede

Die skepper van die geliefde kinderstrokie-karakter Liewe Heksie, Verna Vels, het gisteraand haar stryd teen kanker verloor.

Verna is in die ouderdom van 81 jaar oorlede, berig RSG. Volgens dié radiostasie is sy in haar huis in Johannesburg dood.

Liewe Heksie was vir die eerste keer in 1963 op die lug en is gevolg deur 52 TV-episodes wat kinders voor die kassie vasgenael gehou het.

Beeld berig dat Verna die eerste vrou was wat as programdirekteur vir die SAUK se TV1 gewerk het. Sy het in 1993 ná byna 40 jaar in die radio- en TV-bedryf afgetree.

Maar aftrede het nie beteken sy het ophou werk nie – sy was tot onlangs ook nog betrokke by die SABC 2-sepie 7de Laan.

Verna in 2013 agter die mikrofoon FOTO: Twitter @zarsg

Verna in 2013 agter die mikrofoon
FOTO: Twitter @zarsg

Hier is van die huldeblyke op sosiale media vir “Liewe Hekse se ma”:

Episodes van Liewe Heksie leef steeds voort op YouTube. Hier is een van hulle.

Die uitgewer Human & Rousseau het dié interessante brokkies oor Verna op hul webwerf:

Het jy geweet?

· “Die idee van Liewe Heksie het by Verna ontstaan toe sy die Walt Disney-fliek Snow White and the Seven Dwarfs gesien het waarin die nare heks vir Sneeuwitjie so bang maak. Sy het baie jare later gedink dat dit dalk pret sal wees om oor ’n heksie te skryf wat ’n bietjie dom en vergeetagtig is. ’n Blommeland met ’n silwer roos as kosbaarste besitting, is geïnspireer deur Richard Strausss se opera, Der Rosenkavalier.
· Programme soos Kraaines en Wielie-Walie het onder Verna se leiding ontstaan en sy was al die jare die stem van Wielie-Walie se Bennie Boekwurm.
· Vir die Liewe Heksie TV-reeks is haar stem vir Blommie, Heksie en Klein Kwaaitjie gebruik. Liewe Heksie het in 1978 haar debuut op televisie in ’n reeks van 26 programme gemaak en ’n tweede reeks het in 1981 gevolg.”
Verna saam met RSG se Kobus Burger FOTO: Twitter @zarsg

Verna saam met RSG se Kobus Burger
FOTO: Twitter @zarsg

Bronne: RSG, Beeld, Human & Rousseau

Wat is jou mooiste herinnering van Verna Vels se karakters? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad.