FOTO: Instagram (@liezelonline)

FOTO: Instagram (@liezelonline)

Het jy gehoor?

Liezel van der Westhuizen trap vir liefdadigheid

Liezel van der Westhuizen het al die Ysterman-kompetisie voltooi en dié naweek ook die Attakwas-bergfietsryuitdaging. En dit ten bate van liefdadigheid!

“Ek is nie die vinnigeste óf die fiksste nie, maar ek geniet dit net regtig baie,” vertel sy. Sy het die naweek se Attakwas-bergfietsuitdaging in nege uur en 45 minute voltooi, ondanks ’n kniebesering wat sy tydens die uitdaging gekry het. Dié wedren, waaraan sy die naweek vir die eerste keer deelgeneem het, is 130 km ver (van Oudsthoorn na Groot-Brakrivier) en fietsryers klim ongeveer 2 900 m in hoogte.

FOTO: Instagram (@liezelonline)

FOTO: Instagram (@liezelonline)

Liezel hou daarvan om ten bate van liefdadigheidsorganisasies deel te neem. Sy gaan dié jaar nog die Cape Argus en die Cape Epic-bergwedren ry en ook weer aan die Ysterman-kompetisie deelneem. Met die Cape Epic gaan sy ten bate van die Diepsloot Mountain Biking Academy ry, terwyl sy as deel van Four fat boys and slim aan vanjaar se Ysterman wil deelneem. Dié span bestaan uit vier mans, effe voller in figuur, en Liezel. Hulle neem aan die kompetisie deel om die Signature of Hope Foundation te ondersteun.

“Ek het nog nie besluit wat ek daarna gaan doen nie,” vertel sy opgewek vanaf die oefenkamp waar sy nou is.

“Ek het vandag ses ure gery, ek het gister ook ses ure gery en môre doen ek dit weer,” vertel sy van haar voorbereiding vir die Cape Epic-bergwedren en die Cape Argus.

Liezel het begin fietsry toe sy Kaap toe getrek het en niemand geken het nie.

“Dis eintlik ’n baie sosiale sport,” sê sy. Sy het saam met vroue wat in Kaapstad fietsry begin ry en vandag het sy baie vriendinne wat haar passie vir fietsry deel.

Liezel se medalje wat sy die naweek gewen het.FOTO: Instagram (@liezelonline)

Liezel se medalje wat sy die naweek gewen het.FOTO: Instagram (@liezelonline)

Sy het in 2010 haar eerste Ysterman gedoen, maar opgehou fietsry nadat sy in 2011 by die Cape Argus geval het. Sy het toe besluit om die fietsry te los en eerder kano te roei. Vandag ry Liezel van der Westhuizen weer ernstig fiets – vyf dae per week. Twee dae ry sy lang ritte en die drie ander kere doen sy korter oefensessies, soos spin-klasse in die gimnasium.

Wanneer sy nie aktief is nie? Liezel, wat ook die gesig van The Entertainer is, deel haar gunsteling-kuierplekke in Kaapstad en Johannesburg.

Top-plekke in Johannesburg

  1. Kong Roast
  2. Thai-Su (Parkmore 11th)
  3. Hard Rock Cafe
  4. Wang Thai
  5. Mezepoli by Plakka (Melrose Arch)
  6. Fishmonger (Illovo)

En in Kaapstad

  1. Pierneef à La Motte (Franschoek)
  2. Charly’s Bakery
  3. Planet Restaurant (Mount Nelson)
  4. La Mouette
  5. Societi Bistro
  6. Jason Bakery