FOTO: Leana Clunies-Ross
Foto geneem by Bistro Vine Parkhurst, 011 327 4558, www.bistrovine.co.za

FOTO: Leana Clunies-Ross Foto geneem by Bistro Vine Parkhurst, 011 327 4558, www.bistrovine.co.za

Het jy gehoor?

Lika Berning is nog ’n seuntjie ryker

Die aktrise Lika Berning se tweede seuntjie, Jesse Cilliers Berning, is byna twee weke gelede gebore – net ’n dag ná ouboet Hugo se vierde verjaardag! Sy het in die April-uitgawe van SARIE haar swangerskap aangekondig

“Hy is die sweetste dingetjie,” vertel sy aan SARIE.com. “Hy het ’n gesonde eetlus en is bedrywig, ons gaan deur baie doeke! Dis net nappies, nappies, nappies. Ek kan nie onthou dat Hugo só baie gedrink het nie!” lag Lika. “Ek is bly hy is gesond en dat hy geen maagprobleme of kolliek het nie.”

“Ons hou baie van die naam Jesse en dis ’n bonus dat mens dit in Afrikaans en Engels dieselfde uitspreek. Cilliers is ’n familienaam aan my ma se kant.” Die aktrise Jana Cilliers is Lika se ma en haar ouma was Bettie Cilliers-Barnard, die bekroonde skilder.

“Hugo is baie opgewonde oor sy boetie. Hy verstaan nog nie lekker dat hy nog lank sal moet wag voordat hulle saam kan sokker speel nie. Maar ek glo dit was sy grootste verjaardaggeskenk, al was dit ’n dag later.”

“Ons het hom goed voorberei voor Jesse se geboorte en maak seker hy is deel van sy opvoeding. Ek en hy het al saam ’n doek omgeruil en hy het hom al ’n paar keer vasgehou.”

Lika het die babakamer skakerings van blou geverf met ’n wit-en-swart orka (moordwalvis) teen die muur en ’n rooi voëltjie. “Maar op die oomblik slaap Jesse nog by ons in die kamer,” sê sy.

Baie geluk Lika, geniet die nuweling in jul gesin!

Lees ook