sr1309hoofself01_310w
Het jy gehoor?

Lika Berning se nuwe lewe op die platteland

Die aktrise Lika Berning en haar man, Clyde, ’n akteur en skrywer, en hul seuntjie, Hugo (2), het in 2012 van Johannesburg getrek na ’n huurhuisie langs Finest Kind, haar skoonouers se plaas naby Plettenbergbaai. Hulle is dol oor die plaaslewe en besiger as ooit tevore. Mét dinge wat waarde toevoeg tot hul lewe …

Die Groot Trek

“Hugo is een van die grootste redes hoekom ons getrek het. Hier het hy ruimte en vars lug. Hy word boonop naby baie familie en sy oupa Peter en ouma Joan Berning groot en leer ook die breër gemeenskap ken. Dit gee kinders ’n groter ‘sin van behoort’. “Ons wou ook ’n groter bydrae tot die gemeenskap lewer. Sowat sewe jaar gelede het ek en Clyde die rolprent iKasi met plaaslike akteurs in dié omgewing gemaak. Dit het ’n trots Suid-Afrikaanse gevoel gehad. Wát ’n kreatiewe inspuiting. Nou vervaardig ons weer sulke rolprente deur iKasi Media, ons organisasie sonder winsbejag. Ons beplan om teen die einde van die jaar aan Bhaca Boy te begin skiet. Dit gaan oor ’n sokkerheld wat terugkeer na sy tuisdorp. Báie inspirerend. Ons beoog om ’n jong span rolprentmakers en plaaslike akteurs te gebruik. “Ek is ook die skrywer/regisseur van Vashou ding, ’n kortfilm vir kykNET en Nu Metro se Silwerskermfees in September.”

Rustige Gesinstyd

“Ek hoef nie meer ure agter baba-oppassers aan rond te ry om Hugo te versorg of om oudisies by te woon nie. My lewe is rustig. The good life. Ek bak beskuit en plant groente. Ons het ’n sandput vir Hugo gebou. ’n Paar keer per week trek die familie saam en dan speel die kinders buite totdat hulle omval terwyl die sonsondergang oor die Outeniquaberge ons betower. Daarna eet almal saam tuisgemaakte kaas, ons smul aan olywe en druiwe en drink lekker rooiwyn. Woensdae is daar ’n plaaslike organiese mark waar ons allerlei brode, vleis, konfyt en neute koop. As ek terugkom van die mark, is ek altyd baie geïnspireerd om self kos te maak. Ek sal byvoorbeeld eksperimenteer met konfyt en beskuit bak. Ek het selfs die ander dag die lekkerste koljander-pesto gemaak. “Ons gesin bou sandkastele, stap in die fynbos. Die natuur inspireer ons ook om saam iets kreatiefs te doen. Ons gaan byvoorbeeld nou ’n klimraam vir Hugo bou uit dryfhout wat ons op die strand optel. Ons sal dit vasbind met ’n dik tou, visnet langs die kant hang en ’n ou motorband gebruik as swaai. Dit is lekker veilig hier en Hugo speel alleen in die tuin. “Toevallig het ek in Junie geskiet aan die fliek Vrou soek boer. Dit gaan juis oor ’n stadsmeisie wat platteland toe trek. Nico Panagio speel die hoofrol. Ek besef al hoe meer leefstyl is nou vir my belangrik en dit is die voorbeeld waarmee Hugo grootword. Dit is lekker om die gekwaak van paddas en die see te hoor wanneer ons gaan slaap. Ek en Clyde sien ook uit daarna om ’n tweede babatjie hier groot te maak.”

Wat ek geleer het:

  • Dis bemagtigend om jou eie brood, jogurt, konfyt en pesto te maak.
  • Waardeer jou kinders. Vind tyd omsaam met hulle te wees en elke nuwe stappie wat hulle bereik te vier.
  • Raak betrokke by jou gemeenskap. Doen iets wat jy geniet en wat ’n verskil sal maak in minderbevoorregtes se lewe.
  • Geniet die natuur. Dit is ’n geskenk. Wees aktief. Hardloop, stap, haal diep asem in die vars lug, kyk na die skoonheid om jou. Dít gee jou energie.
  • Verken jou omgewing. doen iets nuuts wat jou uit jou gemaksone neem. Dit laat jou siel groei.