Het jy gehoor?

Lucas Maree bewaarheid ‘n groot droom, tree saam met internasionale groep op

Hoe’t dit gebeur dat julle gaan saam speel?
Hulle het verlede jaar in Bloemfontein opgetree, toe het iemand een van my CD’s vir hulle gegee waarop ek een van hul liedjies sing. Chris Simpson [hoofsanger van Magna Carta] was baie beïndruk. Hy’t toe vir my ‘n e-pos gestuur en gevra of ons een of ander tyd kan saamwerk. Wat ‘n voorreg!

Wat gaan julle speel? Dalk ‘n paar van jou liedjies ook?
Nee, ek weet nie, ons sal moet kyk as hulle hier aankom. Ek’t twee van my liedjies in Engels vertaal, “Die tyd stap aan” [wat Laurika gesing het] en “Jerigo”. Miskien doen ons hulle. Die ding wat ek agtergekom het, is dat my en Chris se kitaarstyle baie dieselfde is. Baie aanpasbaar. Ons gaan moet dink op ons voete.

Sal jy dan ‘n gas op ‘n Magna Carta-album wees, of gaan julle saam ‘n album maak?
Ek’s nie presies seker wat hulle in gedagte het nie. Hulle kom môre hier aan, dan sal ons mekaar van aangesig tot aangesig sien. Ons het nog nooit persoonlik ontmoet nie.

Wanneer het jy jou eerste Magna Carta-album gekoop?
In 1972. Dit was Lord of the Ages. Toe Seasons. Dit het ek alles op band. [Hy lag.] Ek’t nog nie die pirate copies van

Wanneer? Woensdag 20 Oktober
Waar? Aasvoëlklub, Bloemfontein
Kaartjies? Klik by www.vulture-aasvoelclub.com

 

die CD’s nie. Ek sal nou maar vra as hulle kom.

Ek’s al van 1972 ‘n gróót aanhanger, lank voor ek Afrikaanse lirieke begin skryf het. My styl van lirieke skryf is geskoei op Chris s’n – hy maak prentjies met woorde. En dis iets wat ek al jare doen. My benadering is baie dieselfde as syne.

En julle is net die een aand te sien?
Ja, dis jammer. Ek sou die hele toer meegemaak het, maar ek het gesondheidsprobleme en het besluit om dit eerder te los tot volgende jaar. En daar’s planne. Ons gaan probeer om dit op ‘n beter tyd te doen. Dalk gaan ons by van die feeste optree.

Jou gunsteling- Magna-Carta-liedjie van alle tye?
“Two old friends”. Dan’s daar ook “Father John” en “Lord of the Ages”.

Luister na “Two Old Friends” hieronder.