Lupita Nyong'o FOTO: Gallo Images/Getty Images

Lupita Nyong'o FOTO: Gallo Images/Getty Images

Het jy gehoor?

Lupita Nyong’o skiet fliek in SA

Die Oscar-bekroonde aktrise Lupita Nyong’o is tans in Suid-Afrika om haar nuutste film, Queen of Katwe, te skiet, berig Film Contact.

Lupita is sedert sy die Oscar verlede jaar vir haar rol in 12 Years a Slave gewen het, nie net bekend vir haar toneelspel nie, maar ook vir haar skoonheid en modekeuses.

Nou speel sy in Queen of Katwe, wat die storie van Phiona Mutesi vertel. Dis die ware verhaal van ’n jong meisie wat arm grootgeword het in die strate van Katwe, ’n buurt in Uganda, en daar leer skaak speel het. Hoewel haar agtergrond teen haar getel het, is sy die jongste mens nóg wat die Afrika-skaaktoernooi gewen het.

Phiona (nou omtrent 22 jaar oud – haar geboortedatum is onbekend) het as 9-jarige leer skaak speel en as 11-jarige was sy die junior kampioen van Uganda. Sy het as 14-jarige eers leer lees. (Dié ouderdomme is almal geskat.)

Lupita en haar medester, David Oyelowo, veral bekend vir sy rol as Louis Gaines in The Butler, het die afgelope naweek by ’n skool in Atteridgeville, Johannesburg verfilm.

Daar word bespiegel dat plaaslike akteurs party van die rolle in die fliek sal vertolk, maar dit is nog nie bevestig nie.

Die fliek is gebaseer op die boek met gelyknamige titel, The Queen of Katwe: A Story of Life, Chess and One Extraordinary Girl’s Dream of Becoming a Grandmaster deur Tim Crothers.

Lupita het by die Cannes-filmfees op die rooi tapyt verskyn met ’n haarstyl wat deur die vroue van Uganda geïnspireer is. 

Bron: Film Contact en CNN

Lees ook