mood
Het jy gehoor?

Ly ek aan depressie?

Die akteur en komediant Jim Carrey se meisie, Cathriona White, het Maandag glo selfdood gepleeg deur ’n oordosis pille te sluk. TMZ beweer hulle het verlede week hul verhouding beëindig. 

Jim het in ’n verklaring sy hartseer uitgespreek en gesê sy was té sensitief vir hierdie wêreld.

Na aan leiding van dié hartseer nuus deel ons weer ’n onderhoud met Louis Awerbuck en Lise Swart van RSG se Wie is ek met Louis en Lise indien jy wonder wat depressie is en of jy daaraan ly.

Ly ek aan depressie?

LOUIS ANTWOORD: Soos in die geval van enige toestand of siekte, is daar verskillende grade wat gaan bepaal hoe erg jou simptome is. Jy kan bv. ligte verkouesimptome hê, soos ’n loopneus en ’n bietjie kopseer, tot baie erger simptome van dieselfde siekte, soos griep of bronchitis.

Mense met erge depressiesimptome kan dus totaal bedlêend wees, nie eet of praat nie en met selfmoordgedagtes worstel, terwyl miljoene depressielyers vervulde lewens lei. Dié mense is skaars bewus van hul toestand en sal net soms noem dat hulle “’n bietjie af” voel.

LISE: Maar wat ís depressie, en wat nie?

LOUIS: Let daarop dat depressie ’n diagnoseerbare mediese toestand is, met ’n lys simptome waaraan voldoen moet word voordat ‘n spesialis dit kan diagnoseer. Ons het almal “op” en “af” dae, selfs vir lang rukke, maar dit beteken nie dat almal depressielyers is nie. Dis wel belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom, want depressie is ‘n toestand wat geleidelik aankom en stelselmatig kan vererger.

Om diagnoseerbaar te wees, moet een of albei van die volgende twee simptome voorkom, vir ‘n tydperk van minstens twee weke:

  • Neerslagtigheid (‘n oorheersende gevoel van hartseer, of die onvermoë om emosie te ervaar) en/of
  • ‘n Afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite

Om die diagnose te kan maak, moet minstens vier van die volgende simptome ook minstens twee weke lank voorkom:

  • Verandering in eetlus; gewigstoename of -verlies
  • Slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap
  • Geïrriteerdheid, of fisieke lamheid, op ‘n daaglikse basis
  • Konstante fisieke en/of emosionele moegheid en verlies aan energie
  • Intense gevoelens van skuld of hulpeloosheid
  • Onvermoë om te konsentreer of besluite te maak
  • Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfmoord

Indien iemand vermoed dat hy-/syself of ‘n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is: Roep so gou moontlik die hulp van ‘n professionele persoon (‘n mediese dokter, kliniese sielkundige, predikant/pastor of maatskaplike werker) in.

KRY HIER HULP:

Skakel SADAG (The South African Depression and Anxiety Group): 0800 75 33 79 (tolvry) of SMS 31393

Besoek www.sadag.org of besoek www.survivorsofsuicide.org.za

Lees ook