Mandi, Schalk en Jeandré
FOTO: Cilla Bloom Photography

Mandi, Schalk en Jeandré FOTO: Cilla Bloom Photography

Het jy gehoor?

Mandi Baard verwag ’n dogtertjie

Die gewilde TV-aanbieder Mandi Baard, wat ons almal se harte gesteel het as Lara in Egoli, is weer swanger. En dié keer met ’n dogtertjie. 

“Ons is baie opgewonde en bevoorreg om nog ’n babatjie te verwag,” vertel sy aan SARIE.com. Mandi en haar man, Schalk, het twee jaar gelede hul eersteling, Jeandré, verwelkom. “Hy is die oulikste kind, vol streke, maar dierbaar,” vertel sy trots.

Klein Sumé gaan in September haar opwagting maak. “Nie ek of Schalk het al ooit daardie naam gehoor, of iemand geken wie se naam Sumé is nie. Voor ek swanger geraak het met Jeandré, het ek baie gesukkel om swanger te raak. In daardie moeilike tyd droom ek toe dat ek ’n dogtertjie met die naam Sumé het,” vertel Mandi. Sy en Schalk het tóé reeds besluit dat dít hul dogtertjie se naam sou wees as hulle een sou kry.

Ma-wees is vir Mandi wonderlik. “Jeandré is nou in só ’n lekker fase. Hy kry ‘n persoonlikheid en hy sê elke dag nuwe woordjies. Ons geniet hom baie.” Maar sy sê ook dat hy vol nukke is. “Sy oumas en oupas het nie veel simpatie met ons as hy hardekwas is nie, want hulle sê dis presies hoe ek en Schalk op daardie ouderdom was,” lag Mandi.

Een van haar grootste prioriteite is om vir Jeandré so gemaklik moontlik te maak voor Sumé se geboorte. “Ons het hom reeds na sy eie kamer toe geskuif sodat hy dit nie met haar koms assosieer nie,” vertel sy. Mandi is mal oor Pinterest en selfdoen-projekte, en sy het Jeandré se kamer self versier. “Sy kamer is nou pragtig. Ek wil hê hy moet bederf voel en gemaklik wees in sy kamer sodat hy lekker daar kan speel. Daar is ’n leeshoekie met ’n tent, en boekrakke wat ons self van palette gemaak het sodat hy alles kan bykom. Daar is ook ’n swartbord en ’n rol papier waarop hy kan teken nét wat sy hart begeer,” gaan Mandi voort. Jeandré se kamer is grys en blou, met hier en daar ’n bietjie rooi.

Sumé se kamer begin ook nou gestalte kry. “Ons het lap van Amerika af bestel en die oumas gaan help om alles te maak. Die kleurskema van Sumé se kamer is koraal, ment en grys, met houtmeubels,” beplan Mandi.

Jeandré gaan eers volgende jaar skool toe. In dié stadium bly hy deur die dag by sy oppasser, Josephine. “Sy is wonderlik en heeltemal deel van die gesin,” vertel Mandi. “Hy sal aan die begin van volgende jaar skool toe gaan. Ek is dan nog met kraamverlof, wat die proses ook makliker sal maak.”

Mandi vertel dat sy eers gewag het tot hulle 100% seker was dis ’n dogtertjie voor sy aan dié kamer begin beplan het. En noudat sy weet, is daar geen keer aan haar nie!

Lees ook