Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat
FOTO: Robert Hamblin

Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat FOTO: Robert Hamblin

Het jy gehoor?

Margit Meyer-Rödenbeck se ‘Liewe Heksie’ ryg Fiësta-benoemings in!

Die pantomime Liewe Heksie: Flower Power is vir vier Fiëstas benoem: Margit Meyer-Rödenbeck is vir die konsep in die kategorie Beste Prestasie in ’n musiekgedrewe produksie benoem, daar is ’n benoeming vir Beste Musiekgedrewe Produksie en benoemings as beste manlike byspeler elk vir De Klerk Oelofse en Loukmaan Adams.

Die pantomime het verlede jaar by die KKNK sy debuut gemaak, maar was sedertdien by verskeie feeste te sien en het ook ’n speelvak by die Bellville Stadskouburg gehad. Dit is ook in Maart by die US Woordfees te sien.

Meyer-Rödenbeck, wat die rol van Liewe Heksie speel, vertel meer oor die produksie en haar planne vir die res van die jaar …

Wat was jou reaksie toe jy van die benoemings gehoor het?

Natuurlik was ek bly. Dis altyd lekker om erkenning te ontvang en veral vir ’n pantomime wat so ’n intense ensemble-projek is en wat berus op ritme, energie en ’n totale oorgawe. Ek is verheug dat die produksie nie oorgesien is nie.

Ek en Verna Els se Liewe Heksie-karakter stap al meer as 20 jaar ’n pad. Verna was haar tyd so ver vooruit met die skep van hierdie wonderlike tydlose karakters wat soveel humor en deernis het. Hulle is totaal en al toeganklik vir die maak van ’n pantomime. Liewe Heksie: Flower Power is vir my ’n hartsprojek.

Jy en Francois Toerien het saam die stuk geskryf. Wat was jul oogmerk met Liewe Heksie: Flower Power?

Pret. Met pantomime is alles moontlik en die enigste doelwit van die produksie is PRET in hoofletters. Dis ontvlugting en gehore moet voel of hulle dit dadelik weer wil gaan kyk.

Eerlik. Hoewel ons whacky kan raak in die pantomime-genre, wou ons getrou bly aan Verna Vels se ongelooflike karakters.

Familie. Die produksie moes enigiemand tussen vier en 88 kan vermaak. Daar moet iets vir almal wees met storielyne op verskillende vlakke.

Hoe en wie het besluit om die verskillende spelers in die rolverdeling te gebruik?

As vervaardiger het ek die spelers geselekteer. My regisseur, Lizz Meiring, was deurgaans die klankbord. Ek het die rolverdeling gedoen voor ons begin skryf het en dit was lekker om te weet vir wie jy skryf, tot wat hulle in staat is en hoe ver ons hulle kan strek. Ek het wel geglo dat mens met die rolverdeling van ’n pantomime buite die boks moet dink en dat jy met jou keuses moet verras.

Aangesien ek self so lank al Heksie speel, was dit net ’n droom om die rol in ’n pantomime te kon speel.

Die eerste ander speler waarop ek besluit het, was De Klerk Oelofse. Ek sal hom in enige produksie gebruik. Hy is besonder talentvol, hardwerkend en waagmoedig. Crystal Donna Roberts is net so ’n besondere aktrise. Ek het geweet ek sal vir hulle twee al die kleiner rolle – daar is ’n swetterjoel – kan gee.

Ek het kopgekrap oor die Geelheks. Loukmaan Adams is briljant want hy is ’n triple thread: Hy kan sing, dans én toneelspeel. Dan bring hy nog baie sports na die karakter ook.

Loukmaan Adams is te sien as die Geelheks FOTO: Robert Hamblin

Loukmaan Adams is te sien as die Geelheks
FOTO: Robert Hamblin

Met Feëkoningin en Koning Rosekrans was daar verskillende opsies en ek wou op ’n stadium ’n ouer feëkoningin gebruik sodat sy ’n cougar met ’n toyboy is. Met pantomime is die moontlikhede legio! Maar toe dink ek aan Hannes van Wyk wat eendag gesê het as ek ooit ’n panto doen, wil hy ’n rol hê. Toe dink ek, reg so, kom ons sit Hannes in ’n rol wat niemand verwag het nie. Hy was uitmuntend. Hy het ongelooflike komediese tydsberekening wat baie mense verbaas het.

Hannes van Wyk speel koning Rosekrans en Margit Meyer-Rödenbeck Liewe Heksie

Hannes van Wyk speel koning Rosekrans en Margit Meyer-Rödenbeck Liewe Heksie
FOTO: Robert Hamblin

Saam met Hannes was Zanne Stapelberg die aangewese Feëkoningin. Hierdie diva met die stem wat ’n verhoog vul. Ek is jammer dat ek hierdie twee rolle vir die toekoms moet vervang, maar met Carel Nel en Anna Davel gaan dit weer ’n ander dinamiek na die stuk bring.

Zanne Stapelberg as die feëkoningin en Chris van Niekerk as Karel Kat FOTO: Robert Hamblin

Zanne Stapelberg as die feëkoningin en Chris van Niekerk as Karel Kat
FOTO: Robert Hamblin

Emile Minnie as musikale regisseur en koninklike pianis het absolute lewe aan die pantomime gegee. Hy mis nie ’n beat nie en het ongelooflike energie op die verhoog.

Karel Kat is wys, berese, waardig en het lewenservaring. Wie anders as Chris van Niekerk met daardie wonderlike stem?

Pantomime laat jou toe om die verhoog met kinders te deel en daarom word Matewis die kat deur my dogter, Luca Human, gespeel. Sy het wonderlik in die rol gepas en verskeie harte verower.

Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat

Margit Meyer-Rödenbeck se dogtertjie, Luca, speel die rol van Mattewis die kat FOTO: Robert Hamblin

Die doel van die begin af was om die produksie kinderlik en vars te hou en ons het onsself die hele tyd herinner dat ons teater vir families skep.

Loukmaan Adams en De Klerk Oelofse is beide uitstekend. Het hulle by die teks gehou of het hulle soms geimproviseer?

Albei is uitstaande akteurs met ongelooflike passie, toewyding en energie. Hulle het 99% by die teks gehou. Hoewel hulle karakters, Geelheks en Gifappels, sosiale kommentaar lewer wat meer op die volwassenes gerig is, kan ’n mens nie sommer na willekeur die teks van ’n pantomime verander nie omdat dit die ritme kan versteur. Ons het wel Geelheks se teks verander soos die politiek verander het om dit vars te hou. Ná die vakbond Nehawu ons show in Bloemfontein ontwrig het, het De Klerk byvoorbeeld in die laaste show ’n one liner oor hulle ingegooi.

Albei die akteurs kan wel op hulle voete dink en hou die produksie vars, veral soos wanneer die gehoor saam praat soos soms met die Geelheks gebeur.

Die stuk was reeds by verskeie feeste en ook in die Bellville Stadskouberg te sien. Gaan dit weer opgevoer word?

Ja, die produksie gaan na die US Woordfees met vyf vertonings op 5, 12 en 13 Maart in die Stadsaal. Daar is ook ’n speelvak van twee weke, van 19 April tot 1 Mei, by die Brooklyn Teater in Pretoria.

Wat beteken die benoemings vir ’n stuk soos Liewe Heksie: Flower Power?

Enige benoeming gee fokus aan ’n produksie. Dit help met publisiteit en dit maak dit makliker om in die toekoms borge en finansiering te kry. Dit doen ook die moraal van die geselskap goed om te weet hulle is raakgesien in ’n kwaliteit-produksie. Familieteater word gereeld misgekyk omdat dit kwansuis “maklik” lyk.

Die vier stukke wat benoem is vir beste musiekgedrewe produksie is baie uiteenlopend. Dink jy dit wys op hoe kreatief Suid-Afrikaners is?

Sjoe, die kategorie is wyd en uiteenlopend om teen mekaar opgeweeg te word. Smaak verskil ook. Dis ’n groot voorreg om saam met ikone soos Laurika Rauch benoem te word.  Ek dink die uiteenlopendheid wys op kreatiwiteit, maar ook op die behoefte aan verskeidenheid.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Liewe Heksie: Flower Power soos hierbo genoem. Dan skop Dowwe Dolla by die KKNK met ’n splinternuwe konsert, #dowwedolla, af waar sy die kuberruim verken. Dit gaan ook landwyd toer. Die Boer, my en my man Jurg se teaterrestaurant in Durbanville, is in sy elfde jaar en ons gaan ook weer met Die Boer na die KKNK waar daar 25 vertonings van onder meer Amanda Strydom en Andriëtte Norman gaan wees.

Daar is ook ’n moontlikheid van ’n TV-kletsprogram, ’n fliek en ’n nuwe tweemanstuk. My kinderteatermaatskappy, Krazy Katz, wat ek saam met Marinda Engelbrecht bedryf, skep ook weer ’n Vlooi-produksie, Vlooi en die Sneeuman, wat vir vyf weke by Kunstekaap gaan speel en ook daarna na Doha en die Vrystaat gaan toer.

Jy het ’n meestersgraad in teaterbestuur. Hoe gesond is teater op die oomblik in Suid-Afrika?

Die ekonomie druk nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Dis ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant is teater ’n luukse, maar aan die ander kant is dit broodnodige ontvlugting.

Vervaardigers moet wel al hoe meer kreatief dink om mense na die teater te lok en dit bekostigbaar te hou. Vermaak is so ’n breë spektrum en kompeteer met oorsese aanbiedinge, skouspelle soos die sirkus ensomeer.

Die ideaal: Suid-Afrikaners moet voel dat veral Afrikaanse teater ’n baie hoë standaard handhaaf en deel is van ‘n gebalanseerde opvoeding.

Ons moet nog op die punt kom dat teater ’n leefstyl raak. Daarom is familie- en kinderteater so belangrik.

Sal jy graag weer ’n pantomime wil aanpak? Is daar ’n storie wat jy in gedagte het?

O ja, maar ek het met Liewe Heksie: Flower Power besef hoe baie werk dit is. Dit is ontsettend bevredigend, maar as alles volgens plan verloop is daar ’n eg inheemse Suid-Afrikaanse storie wat ek in gedagte het. Julle sal moet wag …

 

Die Fiësta-toekennings word op 18 Februarie tydens ’n glansgeleentheid by die Staatsteater in Pretoria oorhandig. Die geleentheid word regstreeks om 20:00 op kykNET (Kanaal 144) uitgesaai.

 

*Die onderhoud is deur die Fiëstas aan SARIE.com verskaf