marilyn_boeke
Het jy gehoor?

Marilyn Monroe my oppaster – bekende fotograaf se seun vertel

Volgens die dailymail.co.uk onthou hy al die mooi goed – kussing-gevegte, kielie-sessies en die dae toe hy saam met sy “oppaster” in waterpoele gespring het. Min het hy geweet sy was die ikoon Marilyn Monroe.

Sy pa, die celeb-fotograaf Milton Greene, en Monroe was vriende en sakevennote. Sy is 50 jaar gelede op 6 Augustus oorlede.

Greene se plattelandse huis in Weston, Connecticut, was ‘n toevlug vir Monroe. Hiér kon sy die kollig vermy ná haar egskeiding van die bofbal-ster Joe DiMaggio. Gedurende die winter van 1954-’55 het Monroe gereeld by die Greenes aangeklop, en ook na klein Joshua omgesien.

Joshua onthou hoe die ster vir hom borrelbaddens getap het. “Ek was gelukkig, wat kon ek sê?” het hy gegrap. Hy was heeltemal te klein om te begryp wie sy regtig is.

“Dit was die gelukkigste dae van haar lewe, omdat sy in ‘n veilige familie-omgewing was,” het hy gesê. “Daar was nie dwelms en negatiewe energie wat met Monroe se kop kon smokkel nie, en my pa het omgesien dat sy oukei is.”

Milton Greene het ook gesorg dat sy haar loopbaan beter bestuur deur haar te help om haar eie onderneming, Marilyn Monroe Productions, op die been te bring. Sy vrou, Amy, het ook vertel dat Marilyn ‘n behulpsame gas was en dit geniet het om in die woud te gaan stap.
“Dit was die huis wat sy nooit gehad het nie,” het Amy gesê.

“Sonder haar rooi lipstiek en ster-haarstyl het sy maar net soos ‘n gewone, blonde vrou gelyk. Marilyn Monroe was die karakter wat sy geskep het, sy’t dit geword, soos ‘n superheld sal,” het Joshua gesê.

Klik hier vir ‘n foto van Marilyn Monroe en Milton Greene.