FOTO Facebook/ Marion Holm

FOTO Facebook/ Marion Holm

Het jy gehoor?

Marion Holm weer onder die mes

Die Afrikaanse aktrise Marion Holm moes vandag ’n breinoperasie ondergaan weens ’n breinvliesgewas wat drukking op haar linkeroog plaas. Nou sal sy vir drie maande moet rus.

Marion het verlede maand in ’n Facebook-inskrywing erken dat sy vroeër vanjaar haar optredes moes kanselleer oor sy borskanker gehad het.

“Ek het borskanker gehad. Maar dit was so klein en so vroeg opgetel, dat dit net uitgesny is en ek net bestraling gekry het. Ek het nie ’n mastektomie gehad nie en ek het nie chemoterapie gekry nie. Ek voel dus net dankbaarheid. Dankie Vader, dankie, dankie, dankie. En dít is hoekom ek dit privaat wou hou: ek het dit maklik gehad. Ek wou nie simpatie hê of aandag trek nie,” het sy geskryf.

Sy hoop om volgende jaar weer op die verhoog te wees.

Twintig jaar gelede is borskanker by die Afrikaanse sanger Carike Keuzenkamp gediagnoseer. “Toe ek ’n kind was, het ek niemand geken wat kanker gehad het nie. Nie my ma of my pa nie. Ek was die eerste een in ons familie wat dit gekry het. Dis seker maar die manier hoe ons destyds geleef het,” sê Carike aan SARIE.com

Sy loop nie met ’n donker wolk oor haar kop nie. Sy is positief, sy is gesond. Maar die geliefde sangeres Carike Keuzenkamp sê sy het nie kanker oorwin nie, dit bly vir altyd in remissie.

FOTO: Facebook/ Carike Keuzenkamo

FOTO Facebook/ Carike Keuzenkamp

“Ek dink nie dit was dapper om my ander bors [in 2012] te laat verwyder nie. Dit was eenvoudig ’n kans op oorlewing. As jy dit nie doen nie, gaan jy altyd bekommerd wees.”

“Kanker is ’n epidemie. Almal ken deesdae iemand met kanker,” vertel Carike.

Sy het direk die impak van kankernavorsing beleef. “My medikasie het in die twintig jaar drasties verander. Dit wat ek in 2012 gebruik het, het soos dag en nag van my vorige medikasie verskil. En dis ongelooflik.”

Carike sê dis belangrik om na jou liggaam te luister.

“As jy onrustig voel en jy vind niks fout nie, gaan tog maar dokter toe. Moenie wag vir die tekens dat iets verkeerd is nie. Jou liggaam sê iets vir jou.”

Met albei borste het geen mammogram, sonar of bloedtoetse enige tekens van kanker gewys nie. “Maar ek het geweet iets is fout. Iets het verander. Met my laaste bors was die kanker soos ’n spinneweb in my bors versprei. Moenie jouself blind en doof hou nie.”

Lees nou

Refentse: Afrikaans, my hartstaal

Viola Davis as kind geboelie

Bekendes praat oor stryd met anoreksie