anna-mart

Anna-Mart van der Merwe. FOTO Morne van Zyl

Het jy gehoor?

Marita en Anna-Mart gesels films en kos

SARIE-rubriekskrywer Marita van der Vyver het net geweet as Dis koue kos, skat ooit ’n rolprent sou word, moet niemand anderste as Anna-Mart van der Merwe die kosskrywer Clara Brand speel nie. 

“Sy’s net perfek vir Clara. Ek kon aan niemand anderste dink nie,” vertel Marita aan SARIE.com.

Maar as jy dink Marita het agteroor gesit en nie gehelp nie, dink weer. Sy was handeviervoet betrokke as vervaardiger, het die draaiboek saam met regisseur Etienne Fourie geskryf en selfs met die Engelse onderskrifte gehelp!

“Maar as ek op stel was, het ek tjoepstil in die hoek gesit en vir myself gesê: ‘Marita dis nie meer jou boek nie, dis nou Etienne se movie.’ Die kern is daar, maar die produk is anders.”

Sy’t al verskeie weergawes van Dis koue kos, skat gesien. Maar Donderdagaand by kykNET se Silwerskermfees sal sy die finale weergawe sien.

Planne vir die toekoms?

Sy wil graag twee van haar boeke vir die silwerdoek verwerk. “In my agterkop dink ek aan die boek Vergenoeg.”

Maar dis nie al nie, sy werk aan ’n TV-reeks.

“Ek mag nog niks sê nie. Ons moet dit nog pitch. Maar ek het ’n oorspronklike idee vir die televisie. Mens kan nie die hele reeks skryf nie, maar die karakters en die eerste hoofstuk is geskryf,” vertel ’n geheimsinnige Marita.

Anna-Mart en Marita

Anna-Mart en Marita
FOTO Willem Lourens

In SARIE KOS se Augustus/September-uitgawe gesels Anna-Mart met SARIE se kosredakteur, Herman Lensing.

In Dis koue kos, skat speel jy Clara Brand, wie se man haar verkul met een van haar beste vriendinne. Wat was die grootste uitdaging om Clara te wees?

Die wonderlike (menslike) ekstreme wat skrywer Marita van der Vyver vir die karakter gegee het. Sy het lief met oormaat, sy haat met oormaat, sy raak depressief en onseker met oormaat en begeer balans met oormaat! Emosioneel is so ’n karakter uitputtend, maar dit was ’n ongelooflike uitdaging om die nuanses te probeer vind en om haar ekstreme nader aan mekaar te bring.

Gaan die fliek my inspireer om te wil kook, selfs al kan ek nie?

Marita het in ’n stadium gesê sy hoop mense gaan rasend honger wees as hulle uit die fliek stap! Ek het ’n vermoede jy sal wil kook, want die film raak sterk aan die konsep van jou pad na iemand se hart oopkook.

Jou grootste kombuisflater?

Hoekom het niemand my vertel jy moet die pitjies in die rooi brandrissies uithaal as jy nie wil hê jou gaste moet aan ’n hartaanval beswyk nie?

Vir die volledige onderhoud, kry jou nuutste SARIE KOS, nóú te koop.

SARIE KOS AUG/SEP. 2016

SARIE KOS
AUG/SEP. 2016

Jy kan vir Marita ontmoet!

Dis koue kos, skat begin Vrydag landwyd in teaters draai. Marita en van die spelers sal Saterdag 27 Augustus by Ster Kinekor in Tygervallei-winkelsentrum, Wes-Kaap, wees vir die 15:15-vertoning.

Op Sondag 28 Augustus sal sy by Ster Kinekor in die Kolonnade-winkelsentrum, Pretoria, wees vir die 17:00-vertoning.