FOTO Misha Jordaan

FOTO Misha Jordaan

Het jy gehoor?

Marius Weyers is DIE PA

Dié veelsydige akteur wat homself al herhaaldelik bewys het in elke liewe toneelspel-medium, van sepies – as Tim Jordaan in 7de Laan – tot die silwerdoek – onder meer in Jamie Uys lokettreffer The Gods must be Crazy in die 80’s – is nou weer op die verhoog te sien in The Father.

Dié stuk is al in New York se Broadway en in Londen se West End opgevoer en bekroon met die gesogte Tony- en Olivier-toekennings. Dit handel oor die “boks in die maag”-onderwerp dementia. Greg Karvellas, wat onlangs uitstekende regie gedoen het met Clybourne Park en Bad Jews by die Fugard-teater, is die regisseur. Anthea Thompson, wat onder meer gespeel het in die toneelstuk My briljante egskeiding, waarvan SARIE ’n mediavennoot was, vertolk ook ’n rol in The Father.

The Father Cast Photo

Weyers het al vantevore erken seer en snaaks is na aan mekaar. Hy het sy ma verloor toe hy net 24 jaar oud was, kort daarna sy pa en twee jaar daarna sy 21-jarige boetie in ’n motorfietsongeluk. “Deur die oorlewing van tragedies kom jy tot die besef hoe naby aan mekaar die seer en die komieklike is,” het hy al in personderhoude gesê.

Hy sê dan ook: “Ek hou van komiese sowel as dramatiese rolle, veral as jy al twee in een werk vind, soos in The Father. Die skrywer noem dit ’n tragic farce.’’

Sy navorsing vir die stuk het hy gedoen deur met twee vriende te praat wat albei hul geliefdes aan die siekte verloor het. “Een se vrou ly al veertien jaar daaraan. Dit was geweldig belangrik vir my om by hulle meer te hoor oor die verloop van die siekte. Ek het ook dokumentêre films gekyk, boeke gelees en lang gesprekke daaroor met die regisseur en ander spelers gehad.” Tog erken hy die dialoog was moeilik en nie altyd baie logies nie.

Weyers is nog lank nie klaar toneel gespeel nie. “Ek is 71, maar solank opwindende rolle na my kant toe kom, sal ek aanhou. Soms maak ouderdom my bang, die lewe is baie spesiaal, mens wil net nie hê dit moet ooit ophou nie …”

Hy en Evette, ’n beeldhouer, is nou 41 jaar getroud. “Ons weet nie hoekom dit werk nie, ons weet net wat ons het. Dit is kosbaar. Daarmee wil mens nie lol nie.”

Evette en Marius

Evette en Marius

En hoe onthou hy al sy woorde? “Bloed en sweet. Ek staan vroeg op om dit te leer. Daar is geen kortpad nie. Dit is soos om ’n olifant te eet. Happie vir happie. Evette bestee vreeslik baie tyd om my te help.’’

Die lewe het hom geleer jy kry niks reg sonder harde werk en eerlikheid teenoor jou publiek nie.

Marius het oneindig baie respek vir akteurs wat weet wat hulle doen, soos Meryl Streep en Robert de Niro. “Ag, vele ander. Hulle is net so blerrie goed. Daar is baie mense van wie ek geleer het en ek wil hulle elke dag bedank.”

Ná The Father gaan hy lekker vakansie hou by die see – en dan begin hulle verfilm aan Die Seemeeu.

Marius Weyers is een van ons groot Grotes. Tuis op die verhoog. Tuis op die silwerdoek. Tuis op die televisiestel. Soos hy al self in ’n onderhoud met Danie Marais in SARIE (Maart 2015) erken het: “Ek en Liam Neeson het saam in Hollywood aangekom – hy het gebly en ek nie. Maar jy kan dit nie op jouself laai en sê as my lewe nie daai pad loop nie, is ek nie suksesvol nie. Ek het tot die donderende besef daar oorkant gekom watter ongelooflike werk ek in Suid-Afrika gedoen het. ….

“Ek kan eenvoudig nie kla nie. Ek het soveel goeie werk gehad – films, televisie, teater. Ek voel tuis in myself en my beroep.’’

Marius saam met aktrise Sandra Prinsloo – só uit die verlede:

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

Sandra Prinsloo Marius Weyers April 2014

- The Father speel tot 3 Desember by The Fugard-teater in Kaapstad. Kaartjies kos R130 tot R160 en verkry by Computicket.

Lees nou

Ryan Seacrest speel ‘strooimeisie’

Wonder Woman Gal Gadot swanger