FOTO Verskaf

FOTO Verskaf

Het jy gehoor?

Maak Martelize se flatervrye uiebrood

“Ek is baie lief vir brood. Dit bly ’n groot bederf en staatmaker wanneer mense kom kuier en daar kom ’n vars, warm brood uit die oond wat jy met liefde met jou eie hande gemaak het,” vertel Martelize Brink, omroeper en regisseur by Radio Sonder Grense (RSG).

Eendag het sy besluit om gebraaide uie by te sit. “Dit gee ’n lekker soet, kluitjie-element aan die brood.” En sy hou daarvan, want dit is flatervry.

Bestanddele 

lewer middelslag-uiebrood

• 3 of 4 groot of 6 middelslag-uie
• 250 g witbroodmeel
• pakkie gis
• 2 t suiker (Die suiker help die gis met die rysproses. Jy wil dit nie noodwendig soet maak nie.)
• ½ t sout  (Ek skat gewoonlik met die sout, liewer minder as meer. Jy kan altyd sout bo-oor die brood sprinkel of lekker sout botter daarby eet, maar jy kan nie die sout uit die brood haal nie.)
• En natuurlik water

Metode

Sny jou uie sommer in repies (dit maak nie regtig saak hoe nie) en braai dit in ’n pan oor ’n lae hitte. Jy wil nie hê dit moet brand nie, net lekker stadig sag word. Wanneer dit gaar is, haal van die hitte af en laat afkoel.

Gooi al die droë bestanddele in ’n diep bak. Meng die afgekoelde gebraaide uie by die droë bestanddele. Dit is moeilik om die uie goed deur die deeg te versprei as daar klaar water by is.

Maak so 500 of 600 ml water warm. Om die hitte van die water te toets, moet jy jou hand insteek en daar kan hou sonder dat dit brand. Jy wil nie die water te warm hê nie.

Ek werk self nooit met spesifieke hoeveelhede nie. So gooi eers 100 ml water by die droë bestanddele en begin dit met jou hand meng. Stadig maar seker gooi jy meer water by terwyl jy dit meng totdat al die droë bestanddele goed gemeng is en jy ’n redelike stewige beslag het. Dit moenie loperig of nat wees nie. As jy jou vinger op die deeg druk, moet dit taai vassit, maar maklik loskom.

My wenk is om altyd ’n bietjie ekstra meel byderhand te hou. Soms misgis jy jouself en gooi te veel water by.

Dan sit jy so bietjie elbow grease by en begin knie. Doen dit vir so 10 minute.

Sit die bak in ’n plastiek-inkopiesak en knoop die sak toe. Jy kan ook ’n groot vadoek om die bak draai en dit goed toemaak.

Laat dit rys vir so ’n uur, afhangend van hoe warm die dag is. As dit baie warm is, sal die deeg vinnig rys en in die winter vat dit veel langer.

Smeer ’n broodpan met botter.

Wanneer die deeg verdubbel het in volume, knie jy dit weer goed af. Haal die beslag uit die bak en plaas dit in jou broodpan. Laat dit weer rys.

Stel jou oond op 180 °C.  Wanneer die brood weer ’n bietjie gerys het, sit dit in die warm oond.

Baktyd vir brood in die algemeen is gewoonlik so 30 – 40 minute. Ná 30 minute kan jy gerus kyk hoe dit met die brood gaan. As dit nog witterig is bo-op, dan weet jy dit is nog nie heeltemal reg nie. Jy wil graag hê dit moet ’n baie ligte bruin kleur hê. Om te toets of dit gaar is, vat ’n lang mes en druk dit bo-op of as jy nie die brood wil beskadig nie, langs die kant in. As die mes skoon uitkom, is die brood gaar.

Haal dit uit die oond, keer uit die pannetjie en draai dit toe in ’n doek om ’n bietjie af te koel. As jy dit op ’n bord gaan sit, gaan dit sweet en nat word. As jy dapper of net baie honger is, met ’n vadoek in die hand kan jy dit sommer dadelik sny.

Dit is heerlik as jy eenvoudig net botter opsmeer wat so oor die warm brood smelt.

As jy nie van uie hou nie en jy wil net ’n gewone brood maak, doen jy presies dieselfde, jy los net die uie uit.

Alternatief

Ander idees is om die brood te maak sonder die uie. Doen alles dieselfde en wanneer jy dit in die broodpan sit om vir die tweede keer te rys, smeer ’n bietjie olie bo-op. Dan pak jy feta, roosmaryn, knoffel, selfs peppadew op die brood en druk dit lekker in. Dit is heerlik. Jy kan dit selfs op ’n plat pan maak. Vat die deeg, druk dit plat en druk die feta ensovoorts met jou vingers op die brood.

Martelize is naas ’n knap broodbakker en resepteboekskrywer ook besig met verskeie werksprojekte. Sy werk aan die radioprogram Seks en jy. Mense kan vrae en opinies stuur na brink@rsg.co.za Die programme kan ook op rsg.co.za onder potgooi Seks en jy geluister word.

Sy is boonop ’n gewilde seremoniemeester en lewer gereeld motiveringspraatjies.

Lees meer oor haar resepteboek HIER