FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Het jy gehoor?

RSG se Martelize skryf resepteboek

“Ek leef vir kos,’’ sê Martelize Brink, omroeper en regisseur by Radio Sonder Grense (RSG), wat tans haar eerste kookboek skryf. “Ek weet nie wat my besiel nie. Ek toets nou elke dag resepte uit. Dink maar aan my,’’ lag sy.

Martelize was nog nooit iemand wat bang was om uit gemaksones te breek nie. Op 13 het sy een oggend opgestaan met pyn in haar bene – waarskynlik ’n virus of inflammasie van die rugmurg – en sy het die gebruik van haar bene verloor. Sedertdien is sy in ’n rolstoel, maar sy leef voluit. Sy reis oorsee en in Afrika en het al onder meer die berggorillas in Rwanda besoek, en ’n vriend en sy het met ’n kajak na Robbeneiland en terug geroei en só geld ingesamel vir lyers van veelvuldige sklerose. Sy ry ook perd en is verslaaf aan oefening.

martelize

Volgens haar is haar lewensfilosofie: Jy doen sleg wanneer jy niks goed doen nie. So hoekom nie mense help om lekker te eet nie? “Dit gee my oneindig plesier,’’ vertel sy. “Ek het rondom kos grootgeword en die proses van kos berei en voorsit nog altyd geweldig geniet. Ek kook amper elke aand, of dit nou vir ’n groep vriende of vir myself is. Dit is my ontspanning en só skakel ek af van die dag se stres.’’

Sy sê die resepte in haar kookboek, wat ook “bakstories” bevat, wissel van handgemaakte ravioli, lekker onthaal-idees, die pot op die vuur, braai-kos, vingerhappies en dekadente nageregte. “Die geregte is Indies, Italiaans, Frans en eg Suid-Afrikaans, en daar is selfs ’n paar wat ek in Tanzanië leer maak het.

“Ek gee nie om as mense self kos of bestanddele koop nie, maar verkies om alles sover moontlik self te maak.

“’n Heerlike vars brood met kaas is ’n gunsteling op my bord (ek gun myself dit maar min), asook vars seekos en pasta met olyfolie, peper en knoffel. Geregte wat jou binneste warm maak en roer – dít maak my gelukkig.’’

FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Sy bewonder hoogdrawende sjefs, maar sy het nie tyd vir tierlantynjies nie, sê sy. “Ek geniet dit om hul kos en geurkombinsies in ’n lekker restaurant te ervaar, maar ek wil nie noodwendig so kook nie. Ek sal wel hul tegnieke – die indiepte-prosesse wil aanleer – en dit op eenvoudige disse wil toepas. Ons het wonderlike kos-mense in Suid-Afrika.’’

Martelize, wat nog nie ’n naam vir haar boek het nie, sê “voorstelle is welkom’’. Die boek word volgende jaar uitgegee.

* Moenie haar flopvrye uiebrood Vrydag op SARIE.com misloop nie (dit verskyn ook in haar resepteboek).

Lees nou

Vakansie: Só kan jy die kinders besig hou

Herstel jou bros, beskadigde naels

Van houtskywe- en stompe gemaak