Het jy gehoor?

MasterChef se Jade skryf kookboek saam met Sonia Cabano

Op TV lyk dit of niks jou kan onderkry nie, selfs nie eers toe jy uit MasterChef gestem is nie.
Ja, dit lyk seker vreemd, maar tydens MasterChef was selfs die laagtepunte vir my ’n hoogtepunt. Al het dinge nie altyd vlot verloop nie, het ek gevoel ek leer iets. Dít was wonderlik. Alles was net vir my wow!
 
Jy was gisteraand vir die derde agtereenvolgende keer in die druktoets. Wat was jou ondergang in die kombuis?
Ek het nie genoeg kennis van basiese kookvaardighede nie. Jy kan dalk ’n ryk verbeelding hê, maar as jy nie hierdie vaardighede onder die knie het nie, gaan jy sukkel in die kombuis. Ek is nou honger om dit te leer. Wanneer ek oor ses maande klaar studeer het [Jade studeer tans jazz aan die Universiteit van Kaapstad], wil ek as vakleerling in ’n kombuis werk en alles leer wat ek moet.

Hoe het jou internet-kosvideo’s begin?
Ek maak die kosvideo’s al die afgelope jaar. Twee van my vriende het ’n produksiemaatskappy en ons het besluit om die video’s saam te vervaardig. Die idee is om vir studente eenvoudige resepte te wys. Die kos wat ek op die video’s maak, is maklik en jy het net basiese bestanddele nodig. Dit is dus baie goedkoop.

Vertel van die resepteboek waaraan jy saam met jou tannie, Sonia Cabano, gewerk het.
Dit was die ongelooflikste ervaring. Sy het my begin verlede jaar gevra om saam met haar aan die boek te werk. Ek het ’n derde van die resepte ontwikkel. Dis ’n vegetariese kookboek. Ons wil vir Suid-Afrikaners wys hoe maklik dit is om vegetariese geregte by jou dieet in te werk. Dit behoort Oktober op die rak te wees. Die boek se naam is Luscious Vegetarian. Dit gaan ook in Afrikaans beskikbaar wees.

Almal het gepraat van jou vreemde Engelse aksent. Is jy nou selfbewus daaroor?
Vir seker. Ek wou dit in ’n stadium net verander. My ma het toe vir my gesê ek moenie ’n ding daarvan maak nie, want hoe meer ek daaroor gaan dink, hoe meer haywire gaan my aksent raak. Ek weet nie hoe hierdie aksent gebeur het nie. Ek lag nou maar net mense se reaksie af.

  • Ltohe Venter

    Waar kan ek Jade de Waal se kontakbesonderhede opspoor?