verskafmei2013rz
Het jy gehoor?

Mathys Roets: “Ek gaan weer dans!”

“Ek weet dit klink nou vreemd dat ék dit sê, maar ek wil bietjie wegkom van statiese shows. Ek werk daaraan om meer mobiel te wees, die mikrofoon te vat en bietjie te dans!” sê Mathys in sy diep bas stem wat terselfdertyd weergalm én sysag is.

Met ‘n musiek-DVD vertel hy, moet jy versigtig wees, omdat jy tegnies meer blootgestel is as in die ateljee. Maar dít maak hom net meer opgewonde. Waar hierdie gedagte ander sangers sal angstig maak, verklap sy gewoonlik-rustige stem ‘n nuwe vinniger tempo.

“Gewoonlik sukkel jy om jou liedjielys langer te kry vir ‘n vertoning, maar hierdie keer stoei ek om dit korter te kry!” Iemand soos Jy sal sy vierdie musiek-DVD wees.

Hy neem sy DVD op 11 Junie in die indrukwekkende Atterbury-teater in Pretoria op. Verwag ou gunstelinge soos “Fluister”, “In my lewe” en “Treine”, en met die orkes by, wil Mathys “nóg groter gaan” met hierdie liedjies. Dan gaan daar ook 5-6 splinternuwe liedjies wees waarna die gehoor kan uitsien, soos “Lapland” en “Iemand soos Jy”.

Mathys is nog altyd uitgesproke oor die stand van Afrikaanse musiek en glo musikante moet meer ondersteuning kry. “Ek stry teen die illusie dat dit goed gaan met die Afrikaanse musiekbedryf. As als net oorvertaal word, gaan dit nie goed nie. Die populêre musiek is nie vir my weerspieëlend van hoe goed Afrikaanse musiek nou is nie.”

Hy bewonder musikante en liedjieskrywers soos Jannie du Toit, Coenie de Villiers en Lucas Maree – wat liedjies maak wat op die langtermyn nog ‘n indruk laat. Die nuwe generasie-mense soos Karen Zoid, Straatligkinders en Die Tuindwergies gee hom egter nog hoop dat goeie Afrikaanse musiek sal voortbestaan.

Met Mathys self gaan dit baie goed, verseker hy. “Ek is besig en probeer steeds nuwe dinge elke dag, elke week doen. Hierdie winter gaan ek saam met my vriende in Lesotho ski.” (Kyk hier na die foto-album van Mathys se ski-vakansie in Kanada).

In die vooruitsig is ook ‘n nuwe album met die nuwe liedjies wat op die DVD gaan wees. “Ek het nog nie ‘n datum hiervoor nie, ek laat die musiek my lei …”

Wen kaartjies vir Mathys se DVD-opname

Jy kan deel wees van die gehoor vir Mathys se Iemand soos Jy-DVD-opname!

Mathys het weereens van die beste musikante in Suid-Afrika saam met hom op die verhoog – Matthys Maree, Mauriz Lotz, Floors Oosthuizen, David Klassen, Denny Lalouette, Brendan Ross en Rozelle Blackie.

SARIE.com gee 2 dubbelkaartjies weg vir dié vertoning, 11 Junie by die Atterbury-teater in Pretoria.

Skryf hier in!

Of koop jou kaartjie by Computicket.