mathys1_mathys_roets_concert_lr_
Het jy gehoor?

Mathys Roets se splinternuwe app én TV-reeks

Mathys Roets is altyd voor in die koor as dit kom by tegnologie en maniere om sy aangangers in te lig. Nou kan jy régtig met die druk van ’n knoppie al die nuus en inligting oor hom kry deur sy nuwe app. 

Mathys vier eersdaags 20 jaar op die verhoog. “In daardie dae het ek self rondgery en plakkate teen lamppale opgeplak in die dorpe waar ek opgetree het. Ek het selfs briewe gepos na ’n databasis van 2 500 aanhangers oor waar en wanneer ek optree,” vertel hy aan SARIE.com. Maar vandag is dinge heeltemal anders, en baie makliker. Die dae van koeverte toeplak, betaal vir seëls en afhanklik wees van die poskantoor is verby.

Die app is gratis, al wat jy moet doen is om dit af te laai, dan kan jy Mathys se musiek aflaai, vertonings bespreek en selfs aanwysings na sy vertonings kry. “Ek het sommer die ander aand self die aanwysings op die app gebruik om by my vertoning te kom,” vertel hy laggend.

Hy beplan om deur geo tagging mense in spesifieke areas te teiken vir geleenthede in hul omgewing. “Almal het deesdae slimfone, so dit maak sin om dié stap te neem en die mense te bereik waar hulle is.” Mathys wil vir sy aanhangers waardevolle inligting op die app gee. “Dit verskil van Facebook in die sin dat die inligting nie ‘afskuif’ wanneer daar nuwe inligting opgelaai word nie. Dis maklik en gebruikersvriendelik.”

Op die app sal Mathys meer relevante inligting oor sy loopbaan deel, terwyl hy Facebook gebruik om met sy aanhangers te gesels en meer oor sy persoonlike lewe te deel.

Laai Mathys se app hier af vir die slimfoon van jou keuse:

App Store:
http://apple.co/1C9tT1l
Play Store:
http://bit.ly/1clR0jH
HTML5:
http://bit.ly/1C9tT1v

Nóg goeie nuus vir Mathys se aanhangers

Mathys sal een van die dae op kykNET te sien wees in ’n TV-program wat hy en Erik Holm aanbied. Die hele reeks gaan wys hoe dié twee op allerhande avonture gaan met hul rolstoele. “Ons wil ander mense in rolstoele motiveer. Daar is regtig baie mense wat verlam is wat moedeloos is, so ons wil hulle help,” vertel Mathys.

Die program word gemaak in samewerking met Wiele500, ’n liefdadigheidsorganisasie wat rolstoele en toerusting verskaf aan mense wat dit nie kan bekostig nie. “Ons wil vir hulle blootstelling gee en help om meer geld in te samel sodat ons sáám ’n groter verskil kan maak.”

Mathys vertel dat hy dadelik aan Erik gedink het toe hy wakker geword het ná sy ongeluk in 2009. “Toe ek hoor ek sal nie weer kan loop nie, het ek aan Erik gedink. Ek het net gedink dat hy aangaan met die lewe, en ek wou ook,” onthou Mathys.

Kykers kan uitsien na avonture van Mathys, Erik en van hul ander vriende in rolstoele. “Ons gaan beslis weer ski,” verklap Mathys, maar oor die res van die reeks rep hy nog nie ’n woord nie.